Oud-Bulls-afrigter herskik Tsjeggiese rugby

Phil Pretorius en Pavel Chaloupka, die president van die Tsjeggiese Rugbyunie, ná die ondertekening van hul ooreenkoms. (Foto: Martin Flousek)

ʼn Gewese Bulls-afrigter het opdrag gekry om Tsjeggiese rugby so te sê in sy geheel te herskik.

Die Tsjeggiese Rugbyunie het Phil Pretorius vir vier jaar aangestel as rugbydirekteur, “of sportdirekteur soos hulle graag sê”.

Pretorius was voorheen rugbydirekteur van die Kaaimanseilande en het beroepstrukture in dié land geskep om as grondslag te dien vir die verwesenliking van sy ideaal om in die voorsienbare toekoms aan die toernooi om die Rugbywêreldbeker (RWB) deel te neem.

Pretorius sê sy nuwe taak is om die metodiek van Tsjeggië te verander, onder meer al die klubstrukture en spanindeling; ʼn seisoensverandering uitwerk; ʼn organisatoriese struktuur opstel van hoe die unie moet lyk; en die unie se komitees hersien.

“Dis ook baie meer ʼn kantoorwerk as enige van my vorige poste. Hulle wou iemand met ʼn akademiese agtergrond hê om die metodiek te kan doen.

“Verder moet ek na die bestuurspanne van al die nasionale spanne omsien, en die klub en jeugrugby laat groei.

“Ek moet ook ʼn strategiese plan opstel om die sport daar uit te bou.”

Hy is ook die hoofafrigter van die nasionale span.

Pretorius sê die Tsjegge mik daarna dat sowel hul mans- as vrouesewesspanne in 2014 aan die Olimpiese Spele deelneem, en het die oog op 2027 se RWB-toernooi.

Carltonpeil

“Veral die Wêreldbekerdoelwit is haalbaar. Die peil van Tjseggiese rugby is redelik, en hul klubliga op ʼn Carltonbekerstandaard, Tukkies uitgesluit,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Die voorspelers is van ʼn veel beter gehalte as die agterlyn, dus is daar baie werk.”

Hy sê die jeugrugby tot op o.14-vlak is baie goed.

“Ek was laas week by die Ricany-klub waar 300 jong spelers onder 40 afrigters geoefen het.”

Tsjeggië is tans boaan die punteleer in Afdeling 1 Noord van Rugby Europa se kampioenskap, en behoort Saterdag die titel te wen wanneer hy in Luxemburg teen die tuisspan speel. Laasgenoemde is die agteros in die afdeling en word nie juis ʼn wenkans gegun nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Doep ·

Tukkies uitgesluit? Dr Phil was heelwaarskynlik lanklaas in Pta gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.