Oud-Bulls-afrigter los Kaaimanseilande

Phil Pretorius (Foto: CIRFU)

Phil Pretorius (Foto: CIRFU)

`n Gewese afrigter van die Bulls, Phil Pretorius, het as die rugbydirekteur van die Kaaimanseilande bedank.

Pretorius het aan Pale Toe! gesê dis twee-drie vlugte ver van sy basis in Pretoria af en baie duur om soontoe te vlieg, en hy het sy gesin eenvoudig te min gesien.

Hy sê die Kaaimanseilande se rugbyunie (CIRFU) beskou verlede jaar as die beste in sy geskiedenis.

Die span het nege uit sy tien wedstryde gewen en sy heel grootste sege oor Bermuda, sy tradisionele, teenstander behaal.

Dié oorwinning van 47-11 was in die kwalifiserende ronde vir die Rugbywêreldbeker in 2019 en het die kroon gespan op nege agtereenvolgende seges – die meeste sedert die sewe wat in 2002 bereik is.

Met sy aantreklike hardlooprugby het die Kaaimanseilande sewe drieë teen Bermuda ingeryg, en op die ou end 74 drieë in die tien wedstryde gedruk.

Die nederlaag was teen Mexiko in die Noordsone-eindstryd van Rugby Amerikas-Noord se kampioenskap toe die Mexikane 34-24 gewen het in `n wedstryd in Dos Rios, 2 626 meter bo seevlak.

Pretorius sê hy het beroepstrukture op die eilande gevestig, en hy hoop hulle vaar in die toekoms goed.

Die Kaaimans het verlede jaar van 61ste tot 60ste op Wêreldrugby se ranglys gevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.