Oud-Bulls-afrigter se Tsjeggië kelder Switsers

Tsjeggië, met ʼn gewese Bulls-afrigter in beheer, het in die jongste ronde van die reeks om die Rugby Europa-trofee (RET) met Switserland afgereken.

Die Tsjegge, wat deur Phil Pretorius gebrei word, het die kragmeting in Praag, Tsjeggië, met 17-13 gewen, nadat hulle rustyd met 7-3 voor was.

Met ʼn wedstryd minder gespeel, is hulle nou derde ná Nederland – hul volgende teenstander – op die punteleer.

Die Nederlanders word eweneens deur ʼn Suid-Afrikaner, Gareth Gilbert, afgerig.

♦ In die reeks om die Rugby Europa-beker (REB) het Duitsland sy dolle tuimeltog na benede voortgesit toe Spanje hom in Madrid met 84-10 (rustyd 39-0) opgefrommel het.

Die span wat ʼn jaar gelede (met ʼn Suid-Afrikaanse afrigter, Kobus Potgieter, en spelerskern) as ʼn gunsteling beskou is om aanstaande jaar aan die toernooi om die Wêreldbeker in Japan deel te neem, het die een reusenederlaag op die ander gely sedert onenigheid tussen die Duitse Rugbyunie (DRV) en die nasionale span se hoofborg die hart uit die span geruk het.

♦ Georgië is steeds die onoorwonne voorloper in die REB-reeks nadat hy Rusland op laasgenoemde se tuiswerf in Krasnodar met 29-9 ondergesit het.

Hy moes egter magtig terugveg om dit reg te kry nadat die Bere rustyd met 9-7 voorgeloop het.

♦ In Anenii Noi, Moldawië, het Portugal die tuisspan met 29-10 getroef.

Die Wolwe, die onoorwonne voorloper in die RET-reeks, was rustyd met 10-5 voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CJ ·

So wie is die “gewese’ of “oud Bulls-afrigter” na wie daar in die opskrif en eerste sin verwys word?

CV ·

Daar word na Drie Suid Afrikaners as afrigters verwys, maar sleg een se naam word genoem. Ons wil nie net weet of hulle Suid Afrikaners is nie, maar stel belang in wie hulle is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.