Oud-Bulls-slot druk twee drieë in Frankryk

Paul Willemse (Foto: MHR)

Paul Willemse (Foto: MHR)

‘n Gewese slot van die Bulls en die Blou Bulle het Saterdag twee drieë in die Franse Top14-liga gedruk.

Paul Willemse het die tweekuns vir Montpellier Hérault teen Castres Olimpique behaal, maar sy kordaatstuk kon nie keer dat Castres die wedstryd 38-25 wen nie.

Demetri Catrakilis, ‘n gewese losskakel van die Stormers, het tien van Montpellier se punte met twee doelskoppe en twee strafdoele aangeteken.

Rory Kockott, ‘n Franse toetsskrumskakel wat Superrugby vir die Sharks en die Lions gespeel het, het `n drie vir die wenspan gedruk.

‘n Suid-Afrikaner uit elk van die spanne – Jody Jenneker (Castres) en Jacques du Plessis (Montpellier) – het hom `n geel kaart op die hals gehaal.

♦ Burton Francis, wat Superrugby vir die Bulls, die Lions, die Cheetahs en die Stormers gespeel het, het Vrydag nege punte met drie doelskoppe en ‘n strafdoel vir Agen in die Franse Pro D2-liga behaal in sy sege van 34-0 oor Bourgoin, wat deur die Franse toetsspeler en oud-Sharksman Frédéric Michalak, besit word.

♦ Einste Michalak het op sý beurt Saterdag 17 punte behaal in Lyon (wat vanjaar eers tot die Top14 bevorder is) se verrassende sege van 37-25 oor die Franse kampioen, Racing 92, wat die All Black-superster Dan Carter ingesluit het.

Michalak het vier doelskoppe en drie strafdoele op die telbord geplaas.

♦ Die Springbok Morné Steyn het ‘n enkele doelskop bygedra in Stade Français se nederlaag van 22-44 Saterdag teen Grenoble.

♦ Paul Perez, ‘n Samoaanse toetsspeler wat vir die Kings en die Sharks gespeel het, het Toulouse se enigste drie gedruk in sy nederlaag Saterdag van 10-30 teen Pau.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.