Oud-Bulls-spelers druk 3 keer vir Montpellier

Twee gewese Bulls-spelers het Sondag drie van Montpellier se drieë in sy sege van 41-13 oor Pau in die Franse Top14-liga gedruk.

Jacques du Plessis (agsteman) en Paul Willemse (slot) het Sondag onderskeidelik twee en een keer agter die doellyn gaan kuier.

Die onstuitbare Du Plessis, wat as die speler van die wedstryd aangewys is, het ook die grondslag vir die beste drie van die kragmeting gelê. Hy het vyf verdedigers platgeloop, en na die Fidjiaanse vleuel Jim Nagusa laat loop, wat op sý beurt vier linies verdedigers geklop het voor hy gaan druk het.

Die Bok Frans Steyn (heelagter) het ʼn doelskop bygedra.

♦ Wiaan Liebenberg (flank), ʼn gewese SA o. 20-kaptein, wat eweneens vir die Bulls uitgedraf het, het een van La Rochelle se drieë in sy sege van 53-27 teen Castres gedruk.

Jody Jenneker (haker), ʼn gewese Sharks-speler, en die Blitsbok Robert Ebersohn (buitesenter) het drieë vir die verloorspan gedruk.

Terloops, luidens berigte, is die kaartjies vir La Rochelle se Marcel Deflandre-stadion (16 000 sitplekke) vir die 41ste keer op die ry af uitverkoop.

♦ Die Bok Cheslin Kolbe (linkervleuel) het een van Toulouse se vyf drieë in sy sege van 39-0 teen Toulon gedruk.

Engelse Premierliga

♦ In die Engelse Premierliga het die Springbok Robert du Preez (losskakel) 12 punte met twee doelskoppe en twee strafdoele vir Sale in sy sege van 30-15 oor Gloucester behaal.

Sy spanmaat, ook ʼn Bok, Faf de Klerk (skrumskakel), het ʼn drie gedruk, en ʼn geel kaart op die lyf geloop.

Jaco Visagie (haker), ʼn leenspeler van die Bulls af, het een van die wenspan se twee drieë gedruk.

♦ Die Bok Cobus Reinach (skrumskakel) het ʼn onderskepdrie vir Northampton in sy verrassende sege van 31-28 oor die kampioen, Exeter, gedruk.

Pro14-liga

♦ Elf punte – ʼn doelskop en drie strafdoele – deur Jaco van der Walt (losskakel) het die Skotse superklub Edinburgh in staat gestel om sy eweknie Glasgow Warriors in die Pro14-liga met 16-8 te verslaan.

Oli Kebble, die verloorspan se loskopstut, moes ʼn draai in die koelkas maak.

Van der Walt het vir SA Skole en Superrugby vir die Lions gespeel. Kebble (ʼn seun van die Bok Guy Kebble) het SA o. 20 en die Stormers verteenwoordig.

♦ Chris Cloete (flank), ʼn gewese SA A-speler, het een van Munster se drieë in sy sege van 26-17 oor Leinster in die stryd tussen dié twee Ierse provinsies gedruk.

Engelse Kampioenskap

♦ Die Bok Franco van der Merwe (slot) het ʼn geel kaart op die lyf geloop in sy span, London Irish, se sege van 38-5 oor Hartpury College in die Engelse Kampioenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.