Oud-Cheetah behaal 24 punte vir Franse klub

Willie du Plessis (Foto: Bayonne Rugby)

ʼn Gewese Superrugbyspeler van die Cheetahs het Saterdag 24 punte tot sy span se oorwinning in die Franse Pro D2-liga behaal.

Willie du Plessis (losskakel) se drie, vyf doelskoppe en drie strafdoele het Bayonne in staat gestel om Massy met 44-36 te verslaan.

Shaun Robinson (senter), wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het nóg een van die wenspan se drieë gedruk.

Anglo-Walliese Beker

Twee Springbokke het drieë gedruk in die reeks om die Anglo-Walliese Beker wat tussen die 12 Engelse Premierligaklubs en die vier Walliese streekspanne tydens die November-toetsgleuf en die Sesnasiesreeks afgehandel word.

Die Engelse klub Wasps se nuwe aanwins, Nizaam Carr (agsteman), het ʼn drie in sy sege van 36-12 oor die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) gedruk; en Jaco Reinach (skrumskakel) het vir Northampton in sy sege van 41-7 oor Newport Gwent Dragons agter die doellyn gaan kuier.

Cardiff Blues se George Earle (slot) is met `n geel kaart gestraf in sy kragmeting teen Newcastle, wat laasgenoemde met 57-0 oorheers het.

Engelse Kampioenskap

Suid-Afrikaners het 15 van Jersey se punte in sy oorwinning van 20-15 oor London Scottish in die Engelse Kampioenskap behaal.

Brandon Cope, ʼn gewese onderouderdomspeler van die Sharks het agt punte met ʼn doelskop en twee strafdoele bygedra.

Roy Godfrey, ʼn gewese SWD-Curriebekerstut, het ʼn drie gedruk en dit sommer self verdoel. Sy euforie was van korte duur toe hy skaars drie minute later met ʼn geel kaart koelkas toe gestuur is.

Rayn Smid (Foto: Ealing Trailfinders)

Jersey word deur Harvey Biljon afgerig, ʼn tydgenoot van die Bokke John Smit en Butch James in die Sharks se o.21-span.

Die flank Rayn Smid het twee drieë vir Ealing Trailfinders in sy sege van 44-19 oor Yorkshire Carnegie gedruk.

Hy het Curriebekerrugby vir die Westelike Provinsie gespeel voor hy einde 2014 sy heil oorsee gaan soek het.

Franse Pro D2

Burton Francis (losskakel), wat Superrugby vir die Bulls, Lions, Stormers en Cheetahs gespeel het, het 11 punte met ʼn doelskop en drie strafdoele vir Grenoble teen Perpignan aangeteken.

Laasgenoemde het die kragmeting in die Franse Pro D2-reeks met 42-23 gewen.

Bêrend Botha (slot), ʼn gewese Opkomende Springbok, het een van die wenspan se drieë gegruk.

Danré Gerber, ʼn gewese Bolandse senter en die seun van die Bok-legende Danie Gerber, het twee strafdoele vir Mont de Marsan in sy nederlaag van 11-17 teen Colommiers deur die pale geloods.

Vleis Engelbrecht (flank), wat Superrugby vir die Kings en die Bulls gespeel het het `n drie vir Montauban in sy sege van 20-16 004 Dax gedruk.

Nic Strauss, 38-jarige slot van Narbonne, wat Curriebekerrugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn geel kaart teen Nevers op die lyf geloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.