Oud-Cheetah toring uit bo wêreldlegende Carter

Die legendariese All Black en meermalige wêreldspeler van die jaar Dan Carter se ster het Saterdag bra flou geskyn teen die glansvertoning van ʼn gewese Cheetahs-losskakel in die Franse Top14-liga.

Montpelier Hérault, wat deur die gewese Springbokafrigter Jake White geslyp word, het die verdedigende Franse kampioen, Racing 92, met 54-3 verniel.

Willie du Plessis, wat in die jongste tyd al hoe beter vertoon, het twee drieë gedruk, en met ses doelskoppe vir ʼn totaal van 22 gesorg.

Sy tweekuns is binne twee minute in die 55ste en 57ste minuut behaal, die tweede ná ʼn onderskepping en naelloop van 60 meter.

Carter moes met ʼn enkele strafdoel in die 14de minuut tevrede wees.

Du Plessis het verlede week teen Bayonne 21 punte met ʼn drie en agt doelskoppe aangeteken.

Die Bokke Bismarck du Plessis (haker) en Pierre Spies (agsteman) het elk ʼn drie vir die wenspan gedruk, en die gewese Stormers-losskakel Demetri Catrikilis het ʼn doelskop in punte omskep.

Racing se Sean Robinson (heelagter) het ʼn geel kaart op die lyf geloop.

Hy is ʼn gewese SA Skolespeler wat Superrugby vir die Sharks gespeel het.

Europese Kampioenebeker

♦ Die Bok Rassie Erasmus se Munster-span is in die halfeindstryd van die Europese Kampioenebeker deur die Engelse klub Saracens uitgeskakel.

Saracens het 26-10 gewen, met die gewese Bulls-speler en nuwe Britse en Ierse Leeu CJ Stander wat Munster se enigste drie in die 80ste minuut gedruk het.

Europese Uitdaagbeker

♦ ʼn Uitmuntende vertoning as baldraer deur die Bokflank Francois Louw, die medekaptein van die Engelse klub Bath, kon nie keer nie dat die Franse klub Stade Français Sondag hul halfeindstryd in die reeks om die Europese Uitdaagbeker met 28-25 wen.

Franse Pro D2-liga

♦ Die gewese Bulls- en Kings-losvoorspeler Vleis Engelbrecht het ʼn drie vir Montauban teen Dax in die Franse Pro D2-liga gedruk.

Sy span het die kragmeting met 40-31 gewen.

♦ In Oyonnax se sege van 33-6 oor Bourgoin het James Hall, ʼn gewese SA o.20-skrumskakel en Superrugbyspeler van die Kings, ʼn drie vir die wenspan gedruk.

♦ Andries Kruger (flank) van Soyaux-Angouleme het ʼn geel kaart in sy span se nederlaag van 7-36 teen Pau gekry.

Kruger het Curriebekerrugby, meestal as slot, vir die Pumas, Grens en Valke gespeel.

Britse en Ierse Beker

♦ Die Suid-Afrikaanse afrigter Harvey Biljon se Jersey Reds het naelskraap met 28-29 teen Munster A in die eindstryd van die Britse en Ierse Beker verloor.

Biljon, ʼn skrumskakel in sy speeldae, het saam met die Bokke John Smit en Butch James o.20- en 0.21-rugby vir die Sharks gespeel.

Die gewese Griekwaskrumskakel Abrie Griesel was op die bank vir die Ierse span.

Die klubs in die Engelse Kampioenskap (tweede liga), en die naasbestes van die Ierse provinsies en die Walliese streekspanne ding om die Britse en Ierse Beker mee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.