ʼn Gewese speler van Grens is ingesluit in Skotland se groep vir die naderende Sesnasiesreeks.
Die skrumskakel Nathan Fowles, wat in Engeland gebore is, het in 2012 o.21-rugby vir Grens gespeel en ook ʼn slag vir die Bulldogs in die Curriebekerreeks uitgedraf.
Voor dit het hy al as lid van die Sale Sharks se akademie vir dié klub se senior span gespeel, en het hy ná sy seisoen in Oos-Londen daarheen teruggekeer.
Hy is in 2015 as leenspeler Edinburg toe en het die volgende jaar ʼn kontrak by die Skotse superklub gekry.
Fowles, wat vir Engeland se o.20-span gespeel het, is een van vier nuwelinge in die Skotse groep.
Die ander drie is sy Edinburgse spanmaats Blair Kinghorn (heelagter), en Murray McCallum (stut) en Glasgow Warriors se D’Arcy Rae (stut).
Die gewese Stormers-senter Huw Jones en die losvoorspeler Cornell du Preez (ʼn gewese SA o.20-speler, wat Superrugby vir die Kings gespeel het), is ook in die groep ingesluit.
Ander Suid-Afrikaners soos Josh Strauss, WP Nel en Alan Dell, wat in die jongste jare vir die Skotte gespeel het, se name ontbreek.
Die ongelukkige Nel het in November in die toets teen Samoa ʼn arm gebreek nadat ʼn nekbesering en gevolglike operasie hom waarskynlik vroeër ʼn plek in verlede jaar se Leeutoer na Nieu-Seeland gekos het.
Dell, wat die Leeutoer as plaasvervanger gehaal het, het in November ʼn liesbesering in ʼn klubwedstryd in Rusland opgedoen.
Strauss het Glasgow Warriors ná vyf seisoene en meer as 100 wedstryde verlaat om hom hierdie seisoen by die Sale Sharks aan te sluit.