Oud-Griekwa behaal 20 punte vir Hongkong

Liam Slatem – nog `n drie. (Foto: Twitter)

ʼn Gewese Curriebekerspeler van Griekwas het Saterdag 20 punte met die skopskoen vir Hongkong teen Korea in die Asiatiese Rugbykampioenskap behaal.

Matt Rosslee (losskakel) het ʼn doelskop en ses strafdoele in punte omskep, en sy span het die kragmeting in die Namdong Asiad-stadion, Intsjon, Korea, met 30-21 gewen.

Liam Slatem (skrumskakel), wat Vodacombekerrugby vir die Poubloues gespeel het, het een van die wenspan se twee drieë gedruk, nadat hy ook teen Maleisië die doellyn oorgesteek het.

Slatem het ook die Luiperds in die Curriebeker- eerste liga verteenwoordig, en vir die Ikeys gespeel toe hulle in 2014 die Varsitybeker gewen het.

ʼn Derde spanlid, Dylan Rogers (vaskopstut), het eweneens die Griekwastrui in die Vodacombekerreeks gedra.

Die sege plaas Hongkong in ʼn goeie posisie om die titel te wen, maar hy kan allermins op sy louere rus met die tweede ronde wat voorlê. Korea het nie net drie drieë teen die wenspan se twee gedruk nie, maar het die spel ook in die laaste gedeelte van die botsing oorheers.

Die span wat die kampioenskap wen, speel teen die Cook-eilande (Oseanië) uit om ʼn plek in die heruitdunne wat die laaste vakature in aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan sal vul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.