Oud-Griekwa erge vlieg in Keniaanse salf

Matt Rosslee (Foto: HKRU)

ʼn Gewese Griekwa-losskakel was Saterdag `n erge vlieg in die salf van die Keniaanse rugbyspan, die Simbas.

Matt Rosslee het 21 punte aangeteken in Hongkong se sege van 43-34 (rustyd 16-6) oor Kenia in die tweede toets tussen die twee lande op die RFUEA-terrein in Nairobi; en die nederlaag het veroorsaak dat Kenia met twee plekke op Wêreldrugby (WR) se ranglys tuimel.

Dié 30-jarige boorling van Kaapstad, oudleerling van Rondebosch Boy’s High, en gewese Ikey, het vyf strafdoele en drie doelskoppe deur die pale gejaag.

Hy het Griekwas van 2010 tot 2012 in 32 wedstryde verteenwoordig.

Die uiteinde is dat Kenia van 25ste tot 27ste op die ranglys terugsak.

Hongkong steek op sý beurt vir, onder meer, Duitsland (met sy sterk Suid-Afrikaanse element) verby om op 22 sy beste plek sedert die instelling van die lys te beklee.

Die eerste toets, ook in Nairobi, het met 19-19 gelykop geëindig, en die twee spanne meet weer later vanjaar in die Nasiestoernooi in Hongkong kragte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.