Oud-Griekwas hou Hongkong op Wêreldbeker-koers

Matt Rosslee – 19 punte. (Foto: HKRU)

ʼn Paar gewese spelers van Griekwas hou Hongkong op koers in sy hoop op ʼn eerste deelname aan die Wêreldbekertoernooi aanstaande jaar in Japan.

Dié land het Saterdag die Asiatiese Rugbykampioenskap die eerste keer gewen, toe hy Korea in Hongkong oortuigend met 39-5 verslaan het.

Matt Rosslee (losskakel), wat Curriebekerrugby vir die Griekwas gespeel het, het 19 van die wenspan se 39 punte aangeteken.

Hy het ʼn drie gedruk, met vier doelskoppe geslaag, en twee strafdoele oorgeklits.

Die 118 toetspunte wat Rosslee tot dusver opgestapel het, is slegs 11 minder as Ben Rimene se Hongkongse rekord van 129. Hy het verlede jaar by laasgenoemde as losskakel oorgeneem.

Liam Slatem (skrumskakel) het twee van Hongkong se vyf drieë gedruk.

Hy en Dylan Rogers (vaskopstut) het die Poubloues in die reeks om die Vodacombeker verteenwoordig.

Hongkong sal nou tuis en weg teen die Cook-eilande (Oseanië) speel met die oog op ʼn plek in die vierhoekige heruitdun wat later vanjaar in Frankryk beslis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.