Oud-Kimberliet druk twee keer in Amerika

ʼn Gebore Kimberliet het Saterdag twee drieë vir sy span in die Amerikaanse Senior Rugbyliga (MLR) gedruk.

Hanco Germishuys, wat tot dusver in elk van sy span se wedstryde in die reeks agter die doellyn gaan kuier het, het Austin Elite gehelp om NOLA Gold van New Orleans met 30-17 te klop.

Sy tweede drie het Austin die voortou, onderweg na sy eerste sege in die reeks, laat neem.

JP Eloff, ʼn oudleerling van die Hoër Tegniese Skool John Vorster in Pretoria, was in die kol met al drie sy skoppe pale toe.

Hy het sewe van New Orleans se punte met twee doelskoppe en ʼn strafdoel aangeteken.

Sowel Eloff as Germishuys speel toetsrugby vir Amerika.

♦ San Diego Legion het Houston Sabercats in die doodsnikke van ʼn rillerbotsing met 35-32 oorwin.

Die wenspan se binnesenter, JP du Plessis, het die grondslag vir ʼn skouspelagtige drie gelê toe hy van sy eie doellyn af ʼn bres in die Houstonse verdediging geslaan het, en sy sentermaat gevoer het om die res van die veld vir ʼn drie te nael.

Du Plessis het Superrugby vir die Kings gespeel.

♦ Die voorloper in die reeks, Glendale Raptors, het sy onoorwonne rekord behou deur Utah Warriors met 36-29 te verslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.