Oud-Lions-speler plaas 18 op Europese telbord

ʼn Gewese Superrugby-speler van die Lions het Saterdag 18 punte in die reeks om die Europese Kampioenebeker op die telbord geplaas.

Jaco van der Walt (losskakel) se drie doelskoppe en vier strafdoele het die Skotse superklub Edinburgh gehelp om die Franse klub Toulon met 40-14 te verslaan.

 In dieselfde reeks het twee Suid-Afrikaners ál die Franse klub Montpellier Hérault se punte in sy nederlaag van 20-23 teen die Engelse klub Newcastle aangeteken.

Die Springbok Ruan Pienaar (skrumskakel) was in die kol met vyf strafdoele – 15 punte – en Paul Willemse (slot), wat die Bulls verteenwoordig het, het ʼn drie gedruk.

 Twee Bokke het elk ʼn drie gedruk in die kragmeting waarin die Engelse klubs Wasps en Bath met 35-35 gelykop gespeel het.

Die doelskop van Francois Louw se drie in die 71ste minuut het Bath in staat gestel om die louere te deel. Hy het vroeër in die wedstryd ʼn draai in die koelkas gemaak.

Ashley Johnson (bankhaker) het een van Wasps se drieë gedruk.

♦ Gerbrandt Grobler (bankslot) het ʼn drie vir die Engelse klub Gloucester in sy nederlaag van 22-36 teen die Ierse provinsie Munster gedruk.

Hy het Superrugby vir die Stormers gespeel.

♦ Die Engelse toetsspeler Brad Barritt, wat vir die Sharks gespeel het, het ʼn drie vir die Engelse klub Saracens teen sy Franse eweknie Lyon gedruk.

Saracens het die kragmeting met 29-10 gewen.

♦ DTH van der Merwe, wat in Worcester in die Boland gebore is, en vir Kanada toetsrugby speel, het een van die Skotse superklub Glasgow Warriors se drieë teen die Walliese streekspan Cardiff Blues gedruk.

Die Skotte het met 29-12 gewen.

Europese Uitdaagbeker

♦ In die reeks om die Europese Uitdaagbeker het die Bok Faf de Klerk (skrumskakel) vergoed vir die geelkaart wat hy in die eerste minuut op die lyf geloop het, deur uiteindelik 14 punte met die skoen vir sy span by te dra.

De Klerk het vier doelskoppe en twee strafdoele vir die Engelse klub Sale in sy oorwinning van 34-13 oor die Ierse provinsie Connacht behaal.

♦ Die oud-Stormer David Ribbans (slot) het twee drieë, en die Bok Cobus Reinach (bankskrumskakel) een, vir die Engelse klub Northampton gedruk toe dié die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons met 35-21 die loef afgesteek het.

Jarryd Sage (binnesenter), wat vir die Kings gespeel het, het ʼn drie vir die verloorspan gedruk.

Hy is ʼn broer van die Blitsbok Dylan Sage.

♦ In ʼn botsing tussen twee Franse klubs het Stade Français se Bok-bankskakels saam vir ʼn doel gesorg in sy nederlaag van 15-21 teen Pau.

Piet van Zyl het die drie gedruk, en Morné Steyn het vir die ander twee punte gesorg.

♦ Nóg ʼn Bok, Wynand Olivier (binnesenter), se drie het die Engelse klub Worcester gehelp om die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) met 27-21 te troef.

♦ Paul Jordaan het met die eerste drie die bal aan die rol gesit vir die Franse klub La Rochelle se sege van 64-26 teen die Russiese klub Jenisei-STM Krasnojarsk.

 Burton Francis (banklosskakel), ʼn gewese Suid-Afrikaanse Superrugby-speler, het ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir die Franse klub Grenoble teen die Engelse klub Harlequins behaal.

Sy span het met 19-13 gewen.

♦ In die Italiaanse klub Zebre (Parma) se oorwinning van 20-17 oor die Engelse klub Bristol, het Luhandré Luus, die Italianers se bankhaker, ʼn geelkaart op die lyf geloop.

Hy het o. 19-rugby vir die Sharks gespeel, en het reeds Italië o. 20 verteenwoordig.

♦ Jody Rose (losskakel) het insgelyks ʼn geelkaart gekry in die Roemeense klub Timoşoara Saracens se loesing van 12-70 teen die Franse klub Clermont Auvergne.

Hy het tien jaar gelede vir die Opkomende Springbokke gespeel, en Roemenië sedertdien in agt toetse verteenwoordig.

Engelse Kampioenskap

♦ In die Engelse Kampioenskap was Suid-Afrikaners verantwoordelik vir drie van Ealing Trailfinders se drieë in sy sege van 60-25 oor Coventry.

Pat Howard (binnesenter) het twee gedruk en Rayn Smid (agsteman) een.

Howard het SA o. 20 en die Stormers verteenwoordig, en Smid het Curriebeker-rugby vir die Westelike Provinsie gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.