Oud-Lions-speler topdriedrukker in Spaanse liga

JW Bell – voorste driedrukker in Spanje. (Foto: VRAC)

ʼn Gewese Superrugbyspeler van die Lions was vanjaar die topdriedrukker in die Spaanse Liga van Eer.

JW Bell (Valladolid) het 19 keer agter die doellyn gaan kuier – vyf keer meer as sy naaste teenstanders.

Hansie Graaff (El Salvador) se 208 punte was die vierde meeste in die liga.

Bell (heelagter) se kordaatstuk het ʼn driekuns en vier tweekunste ingesluit.

Hy is ook nie al Suid-Afrikaner wat die pad doellyn toe stof getrap het nie.

Christian Rust (El Salvador) het tien drieë gedruk, Andrew Norton (Cisneros) en Coert Cronjé (Ordezia) elk agt en Richard Stewart (Cisneros) ses.

Norton, ʼn middelvelder wat o.21-rugby vir die Sharks gespeel het, het 106 punte behaal (66 daarvan met skoppe).

Die veelsydige agterspeler Rust, wat vir die Boland en die Valke gespeel het, het ook 45 punte met die skoen behaal vir ʼn totaal van 95.

Cronjé en Stewart, albei ook veelsydige agterspelers, het onderskeidelik vir die Valke en die Ikeys gespeel.

♦ Nòg Bell, nòg Rust kon egter punte aanteken in Sondag se eindstryd om die Copa del Rey, tussen die eerste en tweede geplaaste Valladolid en El Salvador.

Valladolid het die gesogte beker met 20-16 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.