Oud-Pretorianer druk vir Amerika in wegholsege

JP Eloff (Foto: Americas Rugby News)

JP Eloff (Foto: Americas Rugby News)

ʼn Oud-Pretorianer het een van Amerika se agt drieë gedruk in sy wegholsege van 51-3 Saterdag op die Dell Diamond in Round Rock, Texas, oor Brasilië in die Amerikas-rugbykampioenskap.

In ʼn naweek wat die kloof tussen die boonste en onderste spanne skerp belig het, het die verdedigende kampioen, die Argentynse Vyftiental, in Bahia Blanca vir Uruguay 57-12 afgeransel, en in Langford, Brits-Columbië, het Kanada vir Chili 36-15 oorrompel.

JP Eloff (binnesenter), wat sy rugby aan die Hoër Tegniese Skool John Vorster in Pretoria geleer het, het voor rustyd ʼn drie wat luidens berigte van indiviuele briljantheid getuig het vir die Arende gedruk.

Hy het seepglad deur die verdediging gesny, langs die kantlyn af genael, en nog twee verdedigers geklop voor hy die doellyn oorgesteek het.

Die Amerikaners word deur die gewese Lions en Goue Leeus-afrigter John Mitchell gebrei, en is Saterdag aangevoer deur die Australiese haker James Hilterbrand, wat al ʼn draai by die Kings gemaak het. Die skrumskakel, Shaun Davies, is ʼn produk van WestvilleBoys High in Durban.

Saterdag se oorwinning is ʼn wesentlike ommekeer van die slae wat die Arende verlede jaar teen die Tupis op die lyf geloop het.
Mitchell en span het uit die staanspoor die oorhand gehad en was 8-0 voor eerdat die Brasiliane tot verhaal gekom en sterker teenstand gebied het. Ná Eloff se drie was die wenspan rustyd 13-0 voor.

Hierna het die Yanks die sluise oopgetrek en buiten Eloff het Tony Lamborn (flank, twee), Spike Davis (regtervleuel), Cam Dolan (plaasvervanger), Mike Te’o (heelagter), Bryce Campbell (buitesenter) en Peter Tiberio (plaasvervanger) die Arende se drieë gedruk.

Ben Cima (plaasvervanger) het vier verdoel en Will Magie (losskakel) het met ʼn strafdoel geslaag.

Brasilië se enigste punte het van ʼn strafdoel deur Moisés Duque (buitesenter) gekom.

Sebastian Cancelliere (Foto: Mundo Ovalado)

Sebastian Cancelliere (Foto: Mundo Ovalado)

Argentyne teen Uruguay

Ondanks die feit dat die Argentyne van meet af aan die spel oorheers het, het die Kiewiete hulle vroeg-vroeg ʼn slag aarde toe gebring deur in die 13de minuut vir ʼn doel deur te breek om 7-0 voor te loop.

Die tuisspan het egter die waarskuwing ter harte geneem en vier drieë gedruk om rustyd die pas 24-7 aan te gee.
Die Argentyne het balbesit geheel en al oorheers, en ʼn geel kaart in elke helfte het op die ou end nie juis Uruguay se saak bevorder nie.

Sebastián Cancelliere (skrumskakel) het drie drieë vir die wenspan gedruk en Santiago Montagner (plaasvervanger-agsteman) twee. Die res het van Domingo Miotti (losskakel), Marcello Brandi (haker), Santiago Álvarez (buitesenter) en Fernando Luna (plaasvervanger-regtervleuel) gekom.

Miotti het sy bydrae met drie doelskoppe tot 11 aangevul, en Luna syne met twee tot nege punte. Tomas Granella (plaasvervanger-losskakel) het eweneens met ʼn doelskop geslaag.

Uruguay se drieë is deur Santiago Arata (skrumskakel) en Juan de Freitas (binnesenter) gedruk. Germán Albanell (losskakel) het een verdoel.

Taylor Paris (Foto: BC Rugby News)

Taylor Paris (Foto: BC Rugby News)

Kanada teen Chili

Taylor Paris (linkervleuel) het Sondag in die Westhills-stadion ʼn driekuns behaal en Dan Moor (regtervleuel) en George Barton (plaasvervanger-binnesenter) het elk ʼn drie gedruk in Kanada se honderdste toetsoorwinning.

Dit was die 19-jarige Barton se toetsbuiging.

Gordon McRorie (skrumskakel en kaptein) het met twee doelskoppe en ʼn strafdoel geslaag, en Robbie Povey (plaasvervanger-losskakel) met twee doelskoppe.

Vir Chili het die plaasvervangers Eduardo Orpis (flank) en Rodrigo Fernández (binnesenter) die doellyn oorgesteek. Tomás Ianiszewski (linkervleuel) het met ʼn doelskop en ʼn strafdoel geslaag.

Kanada het nie gesukkel om hom teen Chili te laat geld nie, en die besoekers se swak dissipline het vir drie geel kaarte gesorg wat hul ritme erg versteur het.

Die Kanadese binnesenter Guiseppe du Toit, wat in Johannesburg gebore is, was een van agt Kanadese wat hul toetsbuiging gemaak het, en deur die afrigter, Mark Anscombe, lof vir hul vertoning toegeswaai is. Verlede week se wedstryd teen die Argentynse Vyftiental het nie toetsstatus geniet nie omdat dit nie Argentinië se nasionale span was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.