Oud-Pretorianer kry 20 in Amerikaanse geldliga

JP Eloff – 20 punte. (Foto: NOLA Gold)

ʼn Oud-Pretorianer het Saterdag 20 punte in die eerste weekronde van die nuwe Amerikaanse beroepsliga, Senior Liga-rugby (MLR), behaal.

JP Eloff se drie, drie doelskoppe en drie strafdoele het Nola Gold gehelp om verrassend met 35-26 teen die Houston Sabercats te wen.

Nola is die afkorting vir New Orleans, Louisiana, en die Sabercats verwys na die uitgestorwe sabeltandtier.

Eloff, ʼn produk van die Hoër Tegniese Skool John Vorster in Pretoria, het reeds in tien toetse vir Amerika gespeel.

♦ In Austin Elite se nederlaag van 26-41 teen die Glendale Raptors het Hanco Germishuys vir ʼn skouspelagtige solodrie gesorg toe hy 60 meter ver die verdedigers uit sy pad geloop en voor die drukslag ʼn laaste een netjies gepypkan het.

Na wat berig word, was dié 21-jarige (wat Griekwas by die o.13-Cravenweek verteenwoordig het) met kragdadige spel aan die spits van Austin se vrugtelose terugvegpoging.

Twee vroeëre rooi kaarte en ʼn gele het Glendale tot ʼn 12man-span gekrimp, maar hy het desondanks die wa deur die drif gesleep.

Een van die rooi kaarte het juis náʼn gruwelike boorvat op Germishuys gevolg, en die ander ná ʼn boorvat op die gewese Amerikaanse kaptein Todd Clever, wat op sy dag vir die Lions en die Goue Leeus gespeel het.

Clever, een van Austin se eienaars, het ná sy uittrede weer begin speel en het dié wedstryd op die bank begin.

Nóg’n noemenswaardige hertoetrede tot die spel is dié van die Springbok Pedrie Wannenburg, een van Austin Elite se hulpafrigters, wat die eerste 53 minute as agsteman diens gedoen het voordat Clever hom vervang het.

Glendale word aangevoer deur die Amerikaanse toetsskrumskakel Shaun Davies, wat in Durban gebore is, en aan Glenwood Boys High gematrikuleer het.

♦ In die ander wedstryd het Seattle Seawolves die San Diego Legion pap geskrum en met 39-23 gewen.

Die seewolf is ʼn vissoort wat in die koue water van onder meer die noordelike Stille Oseaan hou.

Riekert Hattingh (agsteman), Seattle se kaptein, moes die veld in die 25ste minuut verlaat nadat hy en ʼn teenstander met ʼn geweldige slag in mekaar vasgeloop het.

Hattingh (24), wat Vodacombekerrugby vir die Blou Bulle gespeel het, kom in Junie in aanmerking om vir die Amerikaanse Arende te speel, en sy kans in dié opsig word as baie sterk beskou.

Hy is die seun van die Springbok Drikus Hattingh.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.