Oud-Shark lei Saracens tot Europese halfeind

ʼn Gewese Sharks-speler het die Engelse klub Saracens Sondag tot in die halfeindstryd van die reeks op die Europese Kampioenebeker gelei.

Benewens sy besielende leierskap het Brad Barritt ook een van die wenspan se vier drieë teen Glasgow Warriors gedruk.

Sarries het die kragmeting op Allianzpark, Barnet, met 38-13 gewen.

Barritt, wat Engeland van 2012-2015 in 26 toetse verteenwoordig het, en ʼn Britse en Ierse Leeu (2013) is, het van 2006 tot 2009 Superrugby vir die Sharks gespeel. Hy het ook SA o.21 (2006) en die Opkomende Springbokke (2007) verteenwoordig.

Dis die vyfde agtereenvolgende jaar dat Saracens, die verdedigende kampioen, die halfeindstryd in die reeks haal, en hy is tot dusver vanjaar onoorwonne.

Benewens Barritt het die gewese Sharks-, Lions- en Stormers-flank Michael Rhodes vir Sarries opgedraf, en die Springbokke Schalk Brits (haker), Vincent Koch (stut) en Neil de Kock (skrumskakel) was op die bank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.