Oud-Shark se span met ses uit SA wen Euro-titel

ʼn Span met ses Suid-Afrikaners in sy arsenaal, onder leiding van een van hulle, het Saterdag die Europese Kampioenskapsbeker gewen.

Die Engelse klub Saracens het sy Franse eweknie Clermont Auverge op Murrayfield, Edinburgh, met 28-17 geklop in ʼn wedstryd vol spanning waarin die Franse twee keer binne ʼn punt van Saracens se telling af was.

Die gewese Sharks-speler en Engelse toetssenter, Brad Barritt, het hom die afgelope seisoen onderskei met sy leierskap van die Engelse klub, Saracens.

Hy kon egter nie die bevel enduit voer nie, nadat hy Saterdag beseer en deur Owen Farrell as kaptein vervang is.

Die Springbok-stut Vincent Koch en die gewese Stormers-flank Michael Rhodes was in die opdrafspan, met die Springbokke Schalk Brits (haker) en Schalk Burger (flank), en die Hermanus-gebore Petrus du Plessis op die bank.

Nick Abendanon, wat in Bryanston gebore is en nes Barritt vir Engeland toetsrugby gespeel het, het een van Clermont se drieë gedruk.

Clermont het ook oor die diens beskik van Scott Spedding, die Franse toetsheelagter wat Superrugby vir die Sharks gespeel het.

♦ Die Springbok Morné Steyn het Vrydag ʼn doelskop en ʼn strafdoel vir die Franse klub Stade Française aangeteken, in sy verowering van die Europese Uitdaagbeker met ʼn sege van 25-17 oor die Engelse klub Gloucester, eweneens op Murrayfield.

Ander Suid-Afrikaners in die wenspan was die Springbokstut Heinke van der Merwe en die gewese Bulls-kaptein, Jono Ross. Naas Steyn het die Bok Willem Alberts (as slot) van die bank af gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Ek wil nie soos ‘n klakous klink nie maar sien swarigheid vir die eens trotse Springbok. Ek sien die dag aanbreek dat al ons rugbyspelers in die buiteland gaan speel. Daar sal naderhand meer Suid Afrikaners in ander lande sê spanne speel as wat ons sal hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.