Oud-Springbokslot van Natal oorlede

Martin van Rensburg (Foto: Verskaf)

Die Natalse Springbokslot Martin van Rensburg, 72, wat lid was van Dawie de Villiers se 1969/’70-Springbokspan op die berugte betogertoer na die VK en Ierland, is Sondagnag in Johannesburg aan kanker oorlede.

Die lang slot, wat vir sy beweeglikheid en goeie lynstaanspel (en ook ʼn goeie skopvoet oor lang afstande) bekend was, is op die toer deur ʼn besering verhinder om momentum te kry en het nie in ʼn toets gespeel nie.

Van Rensburg was saam met sy slotmaat en die oud-kaptein van Transvaal Toy Dannhauser toe dié vir Natal gespeel het, die twee platjies in die Natalse span. Albei was eers heelagters, vandaar dat hulle albei goeie skoppers na die pale was.

Van Rensburg het in sy voorlaaste jaar op skool nog heelagter gespeel; die volgende jaar, sy eerste as slot, het hy die Natalse skolespan gehaal en twee jaar later het hy op 21 in die Curriebekerreeks uitgedraf.

Hy het tussen 1965 en 1971, toe hy op 26 uitgetree het, in 61 wedstryde vir Natal onder die befaamde afrigter Izak van Heerden gespeel in ʼn tydperk dat Natal onder sy afrigting ʼn hele klomp Springbokke opgelewer het. Dit het die Springbokkapteins Roy Dryburgh en Tom Bedford ingesluit, en ook die Junior Springbokkapteins Peter Taylor en Brian Irvine (toe die Junior Bokke nog die naasbestes in die land was en nie o.20s nie!)

Van Rensburg het saam met sy skoolmaat van die Hoërskool Port Natal, die sterk vleuel Gert Muller, op die Boktoer gespeel. Muller se toer is ook onderbreek deur die dood van sy pa en hy het na Suid-Afrika teruggekeer voor hy weer by die span in die VK aangesluit het.

Die Sharks se flank Marcell Coetze wat nou oorsee speel, is die derde Bok van dié skool in Durban.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik Venter ·

Martin het naby ons in Durban gewoon tydens my kleintyd. Baie mooi mens gewees en iemand om na op te sien. Sterkte vir sy familie in die moeilike tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.