Oud-Stormer wys weer staal van SA slotte oorsee

gerbrandt-grobler-le-club-rugbyMet van die wêreld se beste toetsslotte wat vir die Springbokke speel, het ʼn gewese slot van die Stormers Saterdag opnuut getoon watter staal en diepte daar ook tussen die rykdom Suid-Afrikaanse slotte oorsee gevind word.

Skaars drie weke nadat Gerbrandt Grobler ʼn speler-van-die-wedstryd-vertoning vir Racing 92 in die reeks om die Europese Kampioenskapsbeker teen die Engelse klub Leicester met ʼn drie afgerond het, het hy dié keer in dieselfde Yves du Manoir- Olimpiese Stadion in Colombes teen Bayonne in die Franse Top14-liga geskitter.

Racing het die kragmeting 59-20 gewen.

Grobler het twee drieë gedruk. Vir die eerste moes hy 50 meter ver nael. Vir die tweede het hy ʼn dryfbeweging oor die doellyn afgerond.

Engelse Premierliga

Schalk Brits (Foto: Laureus)

Schalk Brits (Foto: Laureus)

 In die Engelse Premierliga het die Springbok-haker Schalk Brits ʼn drie vir Saracens gedruk in sy skoknederlaag van 18-24 teen Worcester op Sixways.

Saracens, die verdedigende kampioen, is tweede op die punteleer en Worcester tweede laaste uit die 12 klubs in die reeks.

Gary Gold, ʼn gewese hulpafrigter van die Springbokke en tot onlangs die Sharks se rugbydirekteur, het in Januarie in ʼn soortgelyke pos by Worcester oorgeneem. Saterdag se kragmeting was sy eerste in die Engelse topreeks.

Die Springbokke Francois Hougaard (skrumskakel) en Wynand Olivier (senter) en die SA o.20-stut Nick Schonert was onder meer vir die wespan in aksie.

GJ van Velze, ʼn gewese Bulls-slot, SA Skolekaptein en in 2007 ʼn benoemde vir die destydse Internasionale Rugbyraad (IRR) se toekenning as o.19-speler van die jaar, is die afgelope paar jaar hoog aangeslaan as kaptein van Worcester. Hy is egter geruime tyd buite aksie ná ʼn reeks harsingskuddings wat die klub in September verlede jaar laat besluit het om hom ʼn behoorlike herstelkans te gee.

Worcester kan voorts op die knoppies van die Springbok-losvoorspeler Dewald Potgieter en die SA o.20-senter Dean Hammond druk. Laasgenoemde speel vleuel vir die klub.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frik ·

Kan nie sien dat SA sy top jong spelers gaan behou nie. Dis n beroep soos enige werk en jy gaan waar aanbod en speeltyd jou neem. In SA gaan hulle dit nie kry nie, kwotas ontneem hulle dit. Per slot van sake spelers het net ex tyd om te speel so gebruik dit .

Veritas ·

Frik die hartseer van die saak is dat dié verskynsel blyk om onomkeerbaar te wees. Geen talentvolle,ambisieuse rugbyspeler sal so geleentheid laat verbygaan nie. Die gevolg is dat ons rugbystandaard besig is om agteruit te gaan en dít beïnvloed die gewildheid van plaaslike rugby negatief. Dit kan reeds gesien word in die samesmelting van klubs soos Polisie en Harlekyne. Die Gehalte en getalle van Carltonbeker-rugby is onder druk en dié tendens sal voortduur totdat SA rugby heeltemal vernietig is.

Pietser ·

Die probleem is die baie jong spelers wat oorgaan, dis hulle wat ons moet probeer behou. Dit is feitlik ‘n onmoontlike taak om ouens wat reeds vir die Springbokke gespeel het te behou. Die ouens het reeds bereik wat hul wou en sal simpel wees om nie vir meer geld oorsee te gaan speel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.