Oud-Suid-Afrikaner druk vier keer vir Amerika

Hanco Germishuys – vierkuns. (Foto: Facebook)

ʼn Gewese Suid-Afrikaner het Sondag in Montevideo, Urugauy, vier keer agter die doellyn gaan kuier in die Amerikaanse Uitnodigingspan se sege van 45-26 oor Kanada A in die Amerikas- Stille Oseaanreeks (APC).

Een van die agsteman Hanco Germishuys, wat o.13-rugby vir Griekwas gespeel het en twee toetse vir Amerika op sy kerfstok het, se drieë het gekom ná ʼn briljante lopie van 50 meter waarin hy etlike teenstanders uit die pad geveeg het.

Hy was ook nie die enigste speler met SA wortels wat die telbord gehaal het nie.

Die skrumskakel Ruben de Haas het nóg een van die Yanks se sewe drieë gedruk, en die Amerikaanse toetsspeler JP Eloff, wat in Pretoria gebore is, het drie daarvan verdoel.

In die Amerikaanse span se sege Woensdag van 49-36 oor Uruguay het Eloff nege punte met drie doelskoppe en ʼn strafdoel behaal.

De Haas se pa, Pieter, en sy oupa, Gerard, was albei hoog gerekende Curriebekerspelers in Suid-Afrika.

Die Kanadese heelagter, Guiseppe du Toit, wat in Johannesburg gebore is, het Sondag een van Kanada se vier drieë teen Amerika gedruk.

♦ Die Argentynse Vyftiental het die reeks gewen nadat hy Uruguay Sondag met 82-7 opgefrommel het (rustyd 54-0).

Sy losskakel Nicolás Cantarutti het 27 punte opgestapel deur ʼn drie te druk en 11 van sy span se 12 drieë te verdoel.

Juan Cruz Mallía, die heelagter, het ʼn driekuns drieë aangeteken.

Die Argentyne se ander losskakel, Juan Cruz González, het Woensdag 25 punte (ʼn drie en tien doelskoppe) behaal toe die Vyftientiental Samoa A met 85-14 verniel het.

Ander uitslae –

Tonga A 31, Samoa A 28; Tonga A 31, Kanada A 15.

♦ In die Suid-Amerikaanse B-kampioenskap het Venezuela Saterdag in Lima, Peru, met 31-21 teen die tuisspan gewen.

Die wenspan was na berig word deurentyd in beheer van die spel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.