Oud-Tukkie kry 1 van 4 rooies in Franse botsing

ʼn Oudspeler van die Kings, die Blou Bulle en die Tukkies was een van vier spelers wat met rooi kaarte gestraf is in ʼn woeste botsing in die jongste ronde van die Franse Fédérale 1-liga.

Provence, die voorloper in Groep 1 van die liga, en Aubenas, die agteros, moes vir meer as driekwart van die wedstryd met 13 man elk speel nadat die skeidsregter die rooi kaarte in die 14de (Provence), 15de (Aubenas) en 17de (albei spanne) minute uitgedeel het.

Provence het op die ou end met 34-19 gewen.

Die Suid-Afrikaner Wesley Dunlop (losskakel) van Aubenas was een van die vier spelers wat van die veld gestuur is.

Hy het in ʼn Superrugby-promosie-relegasiestryd vir die Kings uitgedraf en Vodacombekerrugby vir die Blou Bulle en die OP Kings gespeel, maar het veral as Tukkie die oog gevang in 2012 se Varsitybekerreeks. Hy was die voorste puntemaker (83) en is as die speler van die reeks aangewys.

Dunlop se broer en spanmaat, Cameron (buitesenter), het ʼn strafdoel aangeteken.

Eweneens ʼn gewese Tukkie, het hy later die Sharks-vyftiental in die Curriebeker-opstelronde verteenwoordig.

♦ Eugene van Staden (plaasvervanger-vaskopstut), wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het Tyrosse se enigste drie teen Bassin d’Arcachon in die 59ste minuut gedruk.

Sy span het die wedstryd met 10-3 gewen.

♦ Ulrich Pretorius (plaasvervanger-haker) het ʼn drie vir Straatsburg teen Limoges gedruk.

Hy het Boland in die Curriebekerreeks verteenwoordig.

Straatsburg het met 54-34 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.