Oud-Valk skop 17 in Frankryk – en kaarte vlieg

ʼn Gewese Curriebeker-speler van die Valke het 17 punte met die skoen in Frankryk behaal – en die kaarte het tussen die Suid-Afrikaners gevlieg.

Jaun Kotzé (losskakel) het 17 punte vir Beaune teen Carqueiranne-Hyères In die Franse Fédérale 1-liga aangeteken, maar eersgenoemde het die wedstryd met 44-37 gewen.

Kotzé het die telbord met vier doelskoppe en drie strafdoele aan die rol gehou.

Voorts is daar slegs ʼn rooi en vier geel kaarte, wat aan Suid-Afrikaners uitgedeel is, om in dié reeks oor verslag te doen.

♦ Eddy Bezuidenhout, Lavaur se vaskopstut, se geel kaart teen Valence d’Agen is met ʼn rooie opgevolg (Valence het met 12-9 gewen).

♦ Rossouw Kruger, die vaskopstut van Nantes, het ʼn geel kaart teen Trélissac gekry (Trélissac het met 25-23 gewen).

♦ Wiehan Hay, Cognac/Saint Jean d’Angély se een slot, het een teen Bergerac op die lyf geloop (Cognac het met 39-15 gewen, ondanks nóg drie geel kaarte en ʼn rooie).

♦ Marco Kotzé, ʼn slot van Marmande, is teen Tarbes koelkas toe gestuur (Tarbes het met 46-13 gewen).

Bezuidenhout is ʼn oudleerling van Paarl Gimnasium; Kruger het Vodacombeker-rugby vir Boland gespeel; Hay het die Pumas in die Curriebeker-reeks verteenwoordig; en Kotzé het die Valketrui as vleuel in Curriebeker-rugby gedra.

Roemeense Superliga

♦ In die Roemeense Superliga het Hendrik Mulder (losskakel), ʼn gewese o. 21-speler van die Goue Leeus, 11 punte vir Dinamo București teen Timoşoara Saracens behaal.

Saracens het die kragmeting met 33-16 gewen.

Mulder het ʼn doelskop en drie strafdoele behaal, en is nou met 44 punte derde op die lys van voorste puntemakers in dié reeks.

♦ Danie Faasen (losskakel) het ʼn strafdoel tot CSM București se sege van 26-14 oor Baia Mare bygedra.

Hy het Curriebeker-rugby vir die OP Kings, die Blou Bulle en die Suidwestelike Distrikte gespeel.

Spaanse Liga van Eer

♦ In Spanje het JW Bell (heelagter), wat Superrugby vir die Lions gespeel het, in die tweede opeenvolgende wedstryd twee drieë vir Valladolid in die Liga van Eer gedruk.

Sy span het La Villa met 61-33 oorheers.

♦ Die gewese Valke-speler Christian Rust het twee doelskoppe vir El Salvador teen Alcobendas behaal.

Dié twee spanne het met 31-31 gelykop gespeel.

Italiaanse Top12-liga

♦ Armand du Preez, wat Vodacombeker-rugby vir die OP Kings en die Vrystaat-vyftiental gespeel het, het ʼn drie vir Valorugby Emilia in sy neerlaag van 16-19 teen Rovigo in die Italiaanse Top12-liga gedruk.

Hy is die seun en genant van die vurige Junior Springbok-slot (blou truie), Armand du Preez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.