Oud-Valk volg 17 punte met 18 op in Franse liga

ʼn Gewese Valke-speler het Sondag, in opvolging van ʼn vorige keer se 17 punte, nóg 18 in die Franse Federale 1-liga opgestapel

♦ Jaun Kotzé (heelagter), wat ook die Griffons verteenwoordig het, het 18 van sy span, Beaune, se 23 punte aangeteken, maar kon nie keer nie dat Vienne die kragmeting met 27-23 wen.

Kotzé het ʼn drie gedruk, en met twee doelskoppe en drie strafdoele geslaag.

Twee weke gelede, teen Carqueiranne-Hyères, het hy 17 punte met die skoen behaal. Beaune kon toe ook nie wen nie.

♦ Die Namibiese toetsspeler Conrad Marais (linkervleuel), se drie in die 76ste minuut het Cognac/Saint Jean de Angély met 24-23 teen Rouaan laat voorloop, maar ʼn verbroude doelskop het laasgenoemde in staat gestel om die oorwinning met ʼn strafdoel in die laaste minuut te beklink (26-24).

Marais het die Pumas in die Curriebeker-reeks verteenwoordig.

♦ Sy Namibiese spanmaat Casper Viviers (bankstut) se drie in die 63ste minuut van Suresnes se kragmeting teen Saint Médard het eersgenoemde in staat gestel om sy neus met 26-22 voor te kry, en kon daarop voortbou om met 31-29 te wen.

♦ Twee Suid-Afrikaners het geel kaarte gekry in Nantes se sege van 57-33 oor Niort: Simeon Geldenhuys (bankflank) van Nantes, en Johann Grundlingh (flank) van Niort.

Grundlingh het darem ook ʼn drie vir die verloorspan gedruk.

Hy het die Vrystaat in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig, en Geldenhuys het Curriebeker-rugby vir die eertydse Magtige Olifante (Oostelike Provinsie) gespeel.

♦ Jovelian de Koker (skrumskakel) het ʼn drie gedruk, en Marco Kotzé (slot) moes gaan afkoel in hul span, Marmande, se nederlaag van 24-40 teen Nafarroa.

De Koker het Curriebeker-rugby vir die Boland gespeel, en Kotzé het in dieselfde reeks vir die Valke (en Superrugby vir die Reds) gespeel.

 Jeffrey Perkins (binnesenter), ʼn gewese Curriebeker-speler van die Valke, het Castanet se enkele drie verdoel in sy nederlaag van 7-44 teen Blagnac.

Spaanse Liga van Eer

♦ In die Spaanse Liga van Eer het Andrew Norton (losskakel), wat die Sharks op o. 21-vlak verteenwoordig het, sewe punte met twee doelskoppe en ʼn strafdoel vir Cisneros teen Gernika behaal.

Laasgenoemde het die kragmeting met 39-32 gewen.

♦ Joubert Engelbrecht (buitesenter), wat die Cheetahs-trui in Superrugby gedra het, het ʼn drie vir Ordizia in sy sege van 47-30 oor Aperejadores gedruk.

Roemeense SuperLiga

♦ Die Suid-Afrikaners Shaun Prins en Keegan May het twee van hul span, Dinamo Bucuresti, se drie drieë in sy nederlaag van 17-53 teen Baia Mare in die Roemeense SuperLiga gedruk.

Prins (regtervleuel) het Curriebeker-rugby vir die Griffons gespeel, en May (slot) het die Westelike Provinsie by die o. 13-Cravenweek verteenwoordig.

Italiaanse Top12-liga

♦ Die Blitsbok (heelagter en hulpafrigter) Stefan Basson het ʼn doelskop tot I Medicei se klinkende oorwinning van 38-7 oor Lazio in die Italiaanse Top12-liga behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.