Oud-vleuel druk twee met eerste opdraf as slot

potgietersrus`n Gewese vleuel het Saterdag sommer twee drieë in die Noorderbonde se Assupolreeks gedruk in sy eerste opdrafslag as slot.

Om die kroon op sy buiging in dié nuwe posisie te span, is Wikus Pretorius van Potgietersrus (Limpopo) as die voorspeler van die wedstryd aangewys.

Potties het Cullinan (Blou Bulle) 45-6 oorrompel in die kragmeting op sy tuisveld in Groep B2 van die reeks.

Wat Pretorius se tweekuns betref, is dit deur die onderkaptein Hans du Plessis geëwenaar, wat op sy beurt as die beste agterspeler aangewys is.

Renier Labuschagne, die voorsitter van Potties, het aan Pale Toe! gesê hoewel die span `n redelike nuwe opdrafagttal gekies het, het hy die losgemale, maar veral die skrums oorheers, en heelwat vaskoppe gehaak.

“Die agterlyn is besonder goed en propvol talent, en het die agterlyn van Cullinan laat les opsê.”

Hy sê die afrigterskombinasie, SJ Jonker en Douw Oosthuizen, is `n groot aanwins vir die klub, maar die grootste sukses sal wees dat Potties rugby speel omdat die spelers dit geniet.

Behalwe Pretorius en Du Plessis se twee elk, het Renier Labuschagne, Juan Nel en Jan Vorster Potties se drieë gedruk. Anthony Hawken het vyf daarvan verdoel.

brakpan-logo-252x300Labuschagne het die plaaslike gemeenskap vir sy ondersteuning bedank.

Potties speel oor twee weke teen die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg.

ERU teen Brakpan

 In Groep A1 het Brakpan, een van die semifinaliste in die afgelope internasionale reeks om die Goue Beker, East Rand United (ERU) 39-27 op Reigerpark geklop.

Harry Nieuwenhuis, Brakpan se voorsitter, het Pale Toe! meegedeel die Panne se voorspelers het die sterk agttal van ERU uit die staanspoor onder druk geplaas en hom nooit toegelaat om `n voet in die deur te kry nie.

Arra Jordaan, Theo Mynhardt, Theo Becker, Pieter Nel, Gido Horn en Sweef Potgieter het vir die wenspan uitgeblink.

Juan Botha (twee) Dean van der Merwe, Mynhardt, Potgieter, Wikus van der Berg en Morné Thompson het die Panne se drieë gedruk en Horn het twee verdoel.

Nieuwenhuis sê die oefeninge het vanjaar maar stadig vir Brakpan begin, maar gegewe die tyd op die oefenveld was die span indrukwekkend en kan hy vorentoe slegs verbeter.

centurionCenturion teen Tukkies (Fezelas)

 In dieselfde groep het die Blou Bulle se Carltonkampioen, Centurion, albei sy wedstryde teen die Tukkies se naasbestes (Fezelas) en derde span gewen.

Charles Pelser, Centurion se klubbestuurder, berig dat sy eerste span 19-6 gewen het (rustyd 10-3), en die tweede 33-29 (rustyd 15-22).

Hy sê Centurion het die studente eenvoudig geen ruimte op die grond gegee nie. Die hele agttal het goed op die grond meegeding en was vinnig op die losbal.

Trevor Smith (slot) het `n drie vir die wenspan gedruk, en Steven Moir (losskakel) was in die kol met sy skopskoen. Hy het die drie verdoel en vier strafdoele deur die pale gejaag.

Vir Centurion se tweede span het Bernard Coetzee, Etienne Step (twee) en Riegal Krahtz drieë gedruk. Die losskakel M Griffiths het met twee doelskoppe en drie strafdoele geslaag.

noordelikes-pietersburgNoordelikes teen UJ

 Pietersburg Noordelikes (Limpopo) het Saterdag in die eerste helfte van die kragmeting in Groep A3 op Polokwane sy blus uitgespeel teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Rautels (Goue Leeus).

Die Bosvelders was met `n magtige poging rustyd 3-0 voor, maar Freek Romijn, die span se hoofafrigter, het aan Pale Toe! gesê toe hy rustyd die kleedkamer instap, kon hy sien sy spelers se gô is uit.

“Toe weet ek ons gaan in die tweede helfte swaar trek. Ons het alles wat ons het in die eerste 40 minute gegee.

“Die studente se vaart en fiksheid was in die tweede helfte eenvoudig te veel vir Noordelikes en hulle het uiteindelik 36-3 gewen.”

Romijn sê hoewel Noordelikes glad nie tevrede met die verloorslag is nie, was sy skrumwerk puik. Hy sal egter veral aan sy lynstaanwerk en die behoud van balbesit moet skaaf.

Brandon Leeman (skrumskakel) en Wouter de Villiers (buitesenter) het baie goed op sowel die aanval as die verdediging gevaar.

northam-logo-300x210Godknows Mawera het Noordelikes se punte met `n strafskop behaal.

Northam teen Tuine

 Op Northam het die plaaslike Rhinos (Limpopo) albei sy wedstryde in Groep B1 teen die Pretoriase kub Tuine se Grizzlies (Blou Bulle) oortuigend gewen.
Die eerste span het 32-3 en die tweede 77-0 gewen.

Flip de Kock, die sekretaris en hoofafrigter van Northam, het aan Pale Toe! gesê die eerste span het aanvanklik gesukkel om aan die gang te kom, en onnodige hanteerfoute het die Grizzlies in die wedstryd gehou.

“Goeie geleenthede is regdeur die wedstryd geskep, maar daardie laaste aangee wat op die grond beland en onnodig middelmatige aangeë sodra ons fases begin opbou, het ons duur te staan gekom.

“Namate die wedstryd gevorder het, het dit beter gegaan. Northam was goed op die verdediging en in die lynstane en op skrumgebied het ons oorheers.

“As `n eenheid het die agttal puik gevaar. Tyson Mulamba, Adriaan Botha en Zander de Kock het hul deel in die vaste los gedoen.”

De Kock sê Paul Lindenberg (voor hy beseer is) was `n krag op die verdeding, en Mark Humphries het orals opgeduik.

Die tweede span se vertoning het getoon dat Northam oor `n kerngesonde diepte beskik, en verskeie spelers het goed gevaar. Goeie samespel het gesorg dat die span gereeld agter die doellyn gaan kuier het.

De Kock sê `n klomp jong manne wat verlede jaar nog op die skoolbanke was, het meer as hul deel gedoen, en gladweg by die klub ingeskakel.

“Manne soos Odwa Timise (stut), Ak Mgqukuza (losskakel) en die nuweling Robin Goliath het eweneens die oog gevang.”

tuine-grozzlies-logoHy sê dit was die Rhinos se eerste volwaardige wedstryde vanjaar, en veral by die eerste span het die spelers nog baie verroes gelyk.

“As afrigter meen ek daar is gewis genoeg talent om die klein probleempies vandeesweek uit te pluis – en hopelik skakel alles Saterdag mooi aaneen.”

 Danie Engelbrecht, die hoofafrigter van die Grizzlies, sê ongeag die Rhinos se swaar agttal was die besoekers rustyd slegs 3-10 agter, en die wedstryd nog glad nie gewen nie.

“Ongelukkig moes die Grizzlies 25 minute lank met 14 man speel, wat dinge baie makliker vir die Rhinos gemaak het om die wedstryd te wen.”

Hy sê die Grizzlies se nommer 7-flank, Nico van Dyk, het `n baie sterk vertoning veral op die verdediging en by die afbreekpunte gelewer. Die plaasvervanger Neels Rademeyer het ook met sy losspel beïndruk.

Gerhard van den Heever (buitesenter) het Tuine se punte met `n strafdoel aangeteken.

Engelbrecht het Northam geloof vir die wyse waarop hy die besoekers ná die wedstryd betrek het.

Hartbeespoort teen Delmas

hartbeespoort-320x384 Op Hartbeespoort het die tuisspan sewe drieë gedruk en`n stewige oorwinning van 46-22 oor Delmas in Groep C1 te behaal.

Chris du Toit, die ondervoorsitter van Hartbeespoort, laat weet die span se positiewe ingesteldheid het die deurslag tot die sege gegee.

“[Dis `n] span wat in homself glo, en die vermoë het om totale rugby te speel. Die span in sy geheel word as uitblinkers beskou, wat dit vir die losspelers en die agterlyn moontlik maak om hul talente ten toon te stel.

“Die vaste vyf het die grondslag met harde werk voor gelê; die losvoorspelers het uitstekend verdedig, en gehelp om teenaanvalle van stapel te laat loop.”

Uitblinkers (en ook die puntemakers) was Carlton Anderson, Stephan Kekana, Chris Ebersohn, Henk de Ridder en Bercho Botha.

Jacques Fourie, was die speler van die wedstryd met sy uithalerverdediging en hoë werkverrigting.

Du Toit het die klub se dankbaarheid uitgespreek vir die geleentheid om in dié reeks teen klubs van ander bonde deel te neem.

edenvale-panthersEdenvale teen Kwaggas (Warmbad)

 In nog `n wedstryd op Hartbeespoort se veld het AJC Edenvale Panthers en die Kwaggas (Warmbad) 15-15 gelykop gespeel.

Phillip Venter, die voorsitter van Edenvale, sê sy span se eerste kragmeting vanjaar het `n taai stryd opgelewer.

“Geeneen van die twee spanne se fiksheid en stelskopwerk was op peil nie. Die Panthers het drie doel- en twee strafskoppe verbrou wat `n ander uitslag tot gevolg kon hê.”

Venter sê hope harde werk wag vandeesweek op sy span, maar hy (die span) aanvaar die uitdaging.

“Dave Khoti het Edenvale aangevoer en die voorbeeld met sy plettervatte gestel. Bryan (Zim) Moyo (vleuel) het goeie hardlooplyne gehandhaaf.

“[Die Panthers] het `n vars en jong span en elke speler het sy beste gelewer.

“Ons is opgewonde oor die talent in die spelersgroep, en glo Edenvale sal goed vaar.”

Die haker Sean dos Santos en Moyo (twee) het die Panthers se drieë gedruk.

westelikesEdenvale se volgende wedstryd is teen Meyerton, wat verlede seisoen die knie teen hom moes buig in die eindstryd van die Valke se Kestrelliga.

Tswaing teen Westelikes

 Tswaing het op Westelikes se veld in `n kragmeting tussen twee Blou Bulle-klubs verras deur die tuisspan 24-14 te troef.

Westelikes se ondervoorsitter, Seun van Rooyen, sê ondanks die feit dat die gasheer balbesit en gebiedsvoordeel oorheers het, kon hy nie die wa deur die drif trek nnie.

Sy swak verdediging en gebrekkige afronding het hom die wedstryd gekos.

Ondanks die nederlaag was daar darem goeie individuele vertonings, wat `n ligpunt vir Westelikes bied.

bronkhorstspruitMcAllen de Aubrey en Sarel de Beer het Westelikes se drieë gedruk, en Anton Jooste en Chrisjan Koen het elk een verdoel.
Van Rooyen het n pluimpie aan die skeidsregters vir hul knap hantering van die wedstryde uitgedeel.

Meyerton teen Bronkhorstspruit

 In Groep C3 het Bronkhorstspruit (Blou Bulle) vir Meyerton (Valke) in `n goeie, harde kragmeting op eie werf 29-14 gaan klop.

André Booyse, Bronkies se voorsitter, sê Meyerton se voorspelers het die skrums en lynstane oorheers, en 70% van die balbesit gehad, maar Bronkhorstspruit het baie goed verdedig om Meyerton van die doellyn weg te hou.

“Hy [Bronkhorstspruit] het ook puik om die losbal meegeding, en wanneer hy balbesit bekom het, die bal rondgegooi, besit behou en gaan druk.”

Dit het daartoe gelei dat die wenspan vyf drieë gedruk het, waarvan twee verdoel is. Meyerton het twee gedruk en albei verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.