Oud-Vrystater druk twee keer in Franse liga

Christaan Erasmus (Foto: Facebook)

ʼn Gewese Vrystaatse o.21-speler het twee drieë vir Niort in die jongste ronde van die Franse Fédérale 1-liga gedruk.

Christiaan Erasmus (linkervleuel), wat op Nelspruit gematrikuleer het, het dit in ʼn kragmeting teen Oleron reggekry.

Niort was met 32-23 baas.

Twee gewese Curriebekerspelers van die Valke het insgelyks die telbord in die Franse derdevlakliga laat rol.

Jeff Perkins (losskakel) het drie strafdoele tot Roval Drôme se gelykop uitslag van 19-19 teen Albi bygedra.

Perkins is een van vier broers wat vir die Valke gespeel het. Hy, Reg en Warren het by geleentheid in dieselfde wedstryd vir die span gespeel, en George het later sy buiging gemaak.

Martyn Lombard (Foto: Facebook)

Die ander gewese Valke-speler, Martyn Lombard (slot), het een van die wenspan se drie drieë gedruk in Bourgoin se sege van 28-24 oor US Bressane 24.

Andries van Blerk, ʼn slot wat Vodacombekerrugby vir die Luiperds-vyftiental gespeel het, het ʼn drie vir Blagnac gedruk in sy oorwinning van 61-6 oor Graulhet.

Frédéric Michalak, die Franse toetslosskakel wat die Sharks-trui in Superrugby gedra het, het ʼn jaar gelede die meerderheidsaandeel in die wenspan aangeskaf.

Morné Vletter (plaasvervanger-losskakel) het ʼn strafdoel vir Straatsburg in sy sege van 9-8 oor Chambery behaal.

Dié oud-Kapenaar het klubrugby vir Durbanville-Bellville in die Westelike Provinsie se Superliga A gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.