Oud-Vrystater kry meeste punte in Spaanse Liga

ʼn Speler wat Curriebeker-rugby vir Vrystaat gespeel het, het in die jongste ronde die meeste punte van die Suid-Afrikaners in die Spaanse Liga van Eer behaal.

Marco Mason (heelagter) se drie en drie doelskoppe het Santboiana 11 punte teen Ordizia in die sak gebring, maar laasgenoemde het met 48-31 gewen.

Mason se spanmaat Dean Rossouw (flank) het ʼn drie gedruk. Hy het die Griffons-trui in die reeks om die Curriebeker gedra.

♦ Christiaan Rust (heelagter) het tien punte vir El Salvador in sy sege van 26-17 oor Valladolid behaal.

Hy het Boland en die Valke in die Curriebeker-reeks verteenwoordig.

♦ Die oud-Ikey Richard Stewart het sy insluiting in Spanje se groep vir die November-toetse met ʼn drie vir Cisneros teen La Villa gevier.

La Villa het die kragmeting met 21-17 gewen.

Franse Pro D2-liga

♦ Hansie Graaff (heelagter), wat die Griffons en Suidwestelike Distrikte in die reeks om die Curriebeker verteenwoordig het, het ses punte met drie doelskoppe bygedra in sy span Massy se nederlaag van 21-32 teen Oyonnax in die Franse Pro D2-liga.

Die wenspan se een slot, Steven Sykes, wat SuperRugby vir die Sharks en die Kings gespeel het, het in sy tweede opeenvolgende wedstryd ʼn geelkaart op die lyf geloop.

♦ Nevers se bankskrumskakel, JC Fraser, het sy span se enigste drie gedruk in sy sege van 21-19 oor Montauban.

Hy het Curriebeker-rugby vir Boland, die Pumas en Griekwas gespeel.

♦ PJ van Lill (bankflank), ʼn Namibiese toetsspeler, het een van Bayonne se drieë gedruk in sy oorwinning van 29-7 oor Bressane.

Italiaanse Top12-liga

♦ Gino Lupini (senter), wat vir die Westelike Provinsie se o. 21-span gespeel het, en Italië in sewesrugby verteenwoordig, het een van I Medicei se drieë in sy oorwinning van 33-17 oor Verona in die Italiaanse Top12-liga gedruk.

Hy is verwant aan die eertydse Transvaalse stut Tito Lupini, wat in die heel eerste Wêreldbeker-toernooi vir Italië uitgedraf het.

♦ Kayle van Zyl, ʼn gewese Curriebeker-speler van die Oostelike Provinsie, het ʼn drie vir Calvisano teen Petrarca gedruk.

Laasgenoemde het die kragmeting met 23-18 gewen.

Franse Federale 1-liga

♦ Martin Bezuidenhout (haker) het een van Bourgoin se drie drieë in sy sege van 21-18 oor Grasse gedruk.

Hy het SuperRugby vir die Lions, die Stormers en die Kings gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.