Oud-WP-slot kry tweekuns in Engelse Premierliga

David Ribbans – tweekuns. (Foto: Northampton Saints)

ʼn Gewese Curriebker-slot van die Westelike Provinsie het Vrydag twee drieë vir die Northampton Saints in die Engelse Premierliga gedruk.

Dit het David Ribbans se span in staat gestel om met 24-6 teen Bath te wen.

Franse Top14-liga

♦ Jacques-Louis Potgieter, ʼn gewese Superrugbyspeler vir die Bulls, die Sharks en die Cheetahs, het 12 punte tot Perpignan se sege van 30-6 oor Montauban in die Franse Top14-liga bygedra.

Hy het drie doelskoppe en twee strafdoele in punte omskep.

♦ Drie Suid-Afrikaners het saam 13 punte vir Montpellier in sy oorwinning van 43-20 oor Toulon aangeteken.

Die gewese Bulls-slot Paul Willemse het ʼn drie gedruk; die Springbok Ruan Pienaar het ʼn doelskop en ʼn strafdoel deur die pale gejaag; en sy Bokmaat Frans Steyn het ʼn strafdoel behaal.

♦ Saterdag het die gewese Bulls-losskakel Tiaan Schoeman drie strafdoele vir Bordeaux Bègles op die telbord geplaas, maar Lyon het die kragmeting met 49-14 oorheers.

♦ Cheslyn Kolbe, ʼn gewese Stormers-speler, het ʼn drie vir Toulouse in sy wegholsege van 53-17 oor Stade Français gedruk.

Jean Kleyn (Foto: YouTube)

Pro14-liga

♦ Nóg ʼn gewese Stormer, die slot Jean Kleyn, het die tweede agtereenvolgende wedstryd ʼn drie vir Munster in die Pro14-liga gedruk.

Dié keer was dit teen die Walliese streekspan, die Ospreys (Swansea), en die Ierse provinsie het met 21-16 gewen.

♦ Vrydag het Quinn Roux, ʼn ander gewese Stormers-slot, wat toetsrugby vir Ierland speel, die provinsie Connacht se enigte drie gedruk in sy nederlaag van 8-21 teen die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons.

Franse ProD2-liga

♦ In die Franse ProD2-liga het die Namibiese toets-agsteman PJ van Lill ʼn drie vir Bayonne teen Vannes gedruk.

Laasgenoemde het die wedstryd met 38-20 gewen.

♦ Nemo Roelofse, ʼn stut wat Curriebekerrugby vir die Suidwestelike Distrikte gespeel het, het ʼn geel kaart op die lyf geloop in sy span, Nevers, se kragmeting met Biarritz.

Biarritz het met 32-20 gewen.

Roy Godfrey (Foto: SWD Arende)

Engelse Rugbykampioenskap

♦ Twee Suid-Afrikaners het Jersey Vrydag gehelp om Cornish Pirates met 19-13 in die Engelse Kampioenskap te klop.

Roy Godfrey, nóg ʼn gewese Curriebeker-stut van die SWD, het ʼn drie gedruk; en Brendan Cope (losskakel), ʼn gewese onderouderdomspeler van die Sharks, het twee doelskoppe behaal.

Jersey word deur Harvey Biljon, eweneens ʼn gewese onderouderdomspeler van die Sharks, afgerig.

Australiese Rugbykampioenskap

♦ In die Australiese Rugbykampioenskap het James Verity-Amm (regtervleuel) ʼn drie vir Perth Spirit in sy sege van 61-17 teen die Greater Sydney Rams gedruk.

Hy het vir die Westelike Provinsie se o.21-span gespeel, en vanjaar sy buiging vir die Western Force in Superrugby gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lol ·

So word ons plaaslike ligas swakker en swakker met al ons spelers oorsee en SARU doen niks om dit te verbeter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.