Ouderdom- of gewigrugby vir die jonges?

Die twee (38kg en 110kg) het Maandag teen mekaar gespeel (Foto: twitter, @ youthweeks)

Die twee (38kg en 110kg) het Maandag teen mekaar gespeel (Foto: twitter, @ youthweeks)

Soos maar elke jaar by die o.13-Cravenweek word die vraag vanjaar weer gevra: Hoe kan so `n groot kêrel van 110 kg teen `n mannetjie van 38 kg soos op die meegaande foto speel? Is dit nie die beseringsnoodlot uittart nie?

En die stokou argument ontstaan dan weer: Moet daar nie volgens gewig meegeding word eerder as met onder ouderdomspanne nie?

Kyk jy na die gewigsopsie, is daar die nadeel dat die kleiner mannetjie van 13 jaar oud wat net 38 kg weeg teen `n veel jonger knaap van so agt, nege jaar oud sal moet speel. Die ouer speler is natuurlik veel sterker, hardloop vinniger, duik harder en behoort meer vaardighede te hê oor hy jare al speel.

Daar is die verdere nadeel dat die ligter speler wat nou saam met die jonger maar ewe groot outjies speel, die kameraderie van sy ouer spanmaats – een van die ongeskrewe boustene van rugby – daardeur misloop. Hy is nie meer by sy maats nie.

In Wellington (Nieu-Seeland) is `n seun wat o.12 speel en (slegs!) 71 kg weeg aangesê om saam met die o.13s te gaan speel. “Ek is klaar me rugby. Hulle mag al op mekaar staan (losskrums) en in die skrums stoot. Dit maak my bang,” het Joe Moe gesê. En, sê hy, hy wil saam met sy pêlle speel.

Verlede jaar was Stephan Posthumus van SWD op 116kg en 1,79m in sy sokkies die grootste speler by die Cravenweek in Durban. Dit is ses kilogram ligter as die Springbokslot Victor Matfield (110 kg).

Teen wie sou hy volgens gewig kon speel? Die grote Posthumus sou seker twee jaar gelede al net teen matrieks van dieselfde gewig kon speel.

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Skolerugbyvereniging (SASRV), Thys Bezuidenhout, het verlede jaar gesê dít is reeds wat rugby so uniek maak. “Dit is ’n spel vir die groot, klein, lank en kort outjies waarin elk van hulle ’n rol het. Party ouens is weer vinniger as ander,” het hy toe gesê.

“Die stelsel wat ons gebruik, is die heel beste. Slegs spelers wat o. 12 of o.13 is, kan aan die toernooi deelneem. As ’n mens soos in die ou dae volgens spelers se gewigte gaan speel, kan ’n mens dit weer kry dat ’n speler wat 13 jaar oud is en 50 kg weeg, teen ’n speler wat in graad vier is, speel wat dieselfde weeg,” het Bezuidenhout dit toe verduidelik.

“Ons het prof. Mike Lambert van die Universiteit van Kaapstad ’n paar jaar gelede gevra om vir ons navorsing te doen. Hy het bevind dat daar geen verskil is in die risiko om beserings op te doen tussen die twee stelsels nie,” het die mediese bestuurder van SA Rugby, Clint Redhead, verlede jaar vertel.

Verreweg die oorgrote meerderheid  is in die eerste helfte van die  jaar gebore. Dit blyk dus dat dit die “ouer” o.13-seuns is wat deurkom – waarskynlik omdat hulle sterker en vinniger is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stander ·

So stem ons saam politiek in skole rugby ook nou al.Dit is die verkeurste ding. Wil nie eers praat oor SWD proewe Dan nog die ou 60/40 storie.ook.Onderwyser wat. NIEvan. kinders hou Val sommer uit.Dit is eendag die kinders wat nie raak gesien word wat in SA vir clubs speel. Ons as ouers Sal n baie sterk span kan kies en baie goed teen cravenweek spanne doen. Selfde met bok spanne

Gerry Gendall ·

Stem saam met gewig rugby, baie seuns is sterre op laerskool agv grote en dan val hulle uit in die Hoër grade. Raak weg vir SA Rugby so. En andersom kleins seuns kry seer en hou op rugby speel.

Sal daarvan hou as die seuns eerder in gewigsklasse ingedeel kan word soos met stoei, boks, judo ens.

Besorgde ouer my seun nou 10 en daar ook groot seuns wat al daar rondloop in Limpopo.

Gewigsrugby op skole vlak is die regte pad!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.