Oudkaptein dink Skotte kan Iere verras

Duhan van der Merwe is een van Skotland se sterre. Foto: Glyn Krik/AFP.

Een van die naweek se rugbyhoogtepunte is beslis Sondag se toets tussen Skotland en Ierland op Murrayfield.

Ierland – die wêreld se voorste rugbyspan – is op koers om die Sesnasiesreeks onoorwonne af te sluit, terwyl die Skotte deesdae amper almal se tweede gunstelingspan op die internasionale verhoog is.

Nou het Greig Laidlaw, voormalige Skotland-kaptein, in ʼn BBC-podsending gesê dat die doedelsakblasers oorgehaal is om die besoekers ʼn rugbyles te leer.

Tog kon die Skotte sedert 2003 nog nooit die topspan op die wêreldranglys klop nie. Maar daar is altyd ʼn eerste keer.

“Glo ek dat Skotland goed genoeg is om vir Ierland te klop? Natuurlik. Dit sal een van die grootste oomblikke in ons rugbygeskiedenis wees,” het Laidlaw gesê.

Volgens die oudkaptein beskik Skotland tans oor die spelers om met die beste spanne in die wêreld saam te gesels.

“As hulle tot hul volle potensiaal speel staan hulle ʼn definitiewe kans. Dit gaan egter hoegenaamd nie maklik wees nie en ek verwag ook nie ʼn baie groot telling nie. Daar is nou net genoeg sterspelers in die span om hul teenstanders twee keer te laat dink voordat hulle op die veld draf.”

Ierland het in die aanloop tot Sondag se tweestryd reeds met Wallis, Frankryk en Italië afgereken, terwyl Skotland met Engeland en Wallis klaargespeel het. Hulle het egter in hul laaste wedstryd teen die Fransmanne vasgeval.

Huw Jones, die Skotse senter wat twee drieë in die Frankryk-wedstryd gedruk het, het ná die toets op die Stade de France gesê dat sy span in hul vermoëns op die rugbyveld glo.

“Ons is steeds in die titelwedloop en ons is gedugte teenstanders op ons tuisveld. Ons het ʼn goeie rekord op Murrayfield en het so ʼn bietjie momentum ná die Frankryk-wedstryd opgebou. Ons speel met elke toets beter en ek voel ons is op pad na ons beste spel.”

Laidlaw stem met Jones saam en meen dat Ierland glad nie hul teenstanders onderskat nie.

“Andy Farrell (Ierland-afrigter) gaan sy troepe se enjintoere so opjaag, ʼn mens sou dink dat hulle teen Frankryk speel. Hulle weet beslis dat daar ʼn taai uitdaging op hulle wag.”

Sesnasies-bepalings:

Saterdag:

16:15: Italië teen Wallis

18:45: Engeland teen Frankryk

Sondag:

17:00: Skotland teen Ierland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

capie ·

Met ‘n kwart van die span Suid Afrikaners het die Skotte ‘n goeie kans.

kaplyn ·

Ek sien in die berig hierbo dat die arme Wallis speel Saterdag om 16:15 eers teen Italie en direk daarna om 18:45 teen Engeland. Dit wil gedoen wees! Maar ek hoop die Skotte trap vir Ierland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.