Oudskoliere, Senekal loop voor in Oos-Vrystaat

Bethlehem-oudskoliere en Senekal is die vroeë voorlopers in die Oos-Vrystaat se Senior Liga nadat die eerste ronde Saterdag afgehandel is.

Oudskoliere, die streek se verdedigende kampioen, het in die Noordgroep die Leopards (QwaQwa) met 97-7 verniel, en Senekal het in die Suidgroep met 19-10 teen Ladybrand gewen.

Die Bethlehemse klub het hom bedink nadat hy vroeër aangedui het hy gaan vanjaar aan die Griffons-Luiperdsoorgrensliga deelneem, en is terug in die Oos-Vrystaatse liga.

Die klub se tweede span het egter onttrek en word deur die Leopards vervang, ʼn ontwikkelingspan wat reeds byna tien jaar lank deel van die streek se rugby is, maar tot dusver wisselvallig was veral as gevolg van studente wat nie vakansietye beskikbaar is nie.

Corrie Craven, die sekretaris van Griffons-Oos, sê die Leopards het nou ʼn stuk of 30 spelers en het onderneem om al hul bepalings na te kom.

In die ander kragmetings Saterdag in die Noordgroep het Frankfort verrassend met 44-10 teen Harrismith, die houer van die Stoney Steenkamptrofee, gewen; en Reitz, verlede jaar se naaswenner, het Collegians II van Bethlehem met 55-3 oorrompel.

Collegians I het Marquard in die Suidgroep met 18-10 geklop, en Lindley het met 13-8 teen Ficksburg gewen.

Opgesomde puntelere –

Noordgroep

Oudskoliere 5, Reitz 5, Frankfort 5, Harrismith 0, Collegians II 0, Leopards 0.

Suidgroep

Senekal 4, Collegians I 4, Lindley 4, Ficksburg 1, Marquard 0, Ladybrand 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.