Oulap se rooi maak (Super)rugby mooi

SuperRugby12 bal`n Oulap se rooi maak mooi, lui die spreekwoord, en dis ewe waar wat rugby, en dalk veral Superrugby, betref.

Die gejaag na geld – en dis te betwyfel of dit omgekeer kan word – dwing om sake in die rugbywêreld in verskeie opsigte uit verband te ruk en dis op min plekke opvallender as juis in die Superrugbyreeks.

Daar is min twyfel dat die uitbreiding van die reeks tot 18 spanne deur niks anders nie as geldsug onderlê word.

`n Rubriekskrywer in The New Zealand Herald trek juis te velde teen die lompheid van die nuwe reeks, die rondvlieëry, die insluiting van spanne waarvoor niemand `n snars omgee nie, en bestempel dit as `n “foppery wat ernstige afkeer wek”.

Hy sê prontuit plaaslike derbies lok die meeste belangstelling en “die reeks het nie die [Japanse] Sunwolves nodig nie”.

Dit laat `n mens wonder waarom die Suidsee-eilanders (Fidji, Samoa en Tonga) nog nooit vir insluiting by die reeks oorweeg is nie.

Die Superreeks is tog aanvanklik vir lande in die Suidelike Halfrond geskep. Die eilanders is `n gevestigde rugbykrag en lewer deurlopend van die wêreld se voorste spelers (meesal in `n All Black-trui) op.

Dit maak rugbysin dat `n franchise in die Suidsee die Superreeks wesenlik sal versterk.

Ongelukkig is hulle van die armste lande ter wêreld. Volgens die tydskrif Global Finance (GF) se lys vir 2015 is Fidji maar 108ste uit 185 op die lys as dit by die wêreld se rykste lande kom, Samoa 129ste en Tonga 130ste.

Dus word die reeks verwater met die insluiting van die rugbyparvenu Japan, waar geld geen kwessie is nie, al is hy buite die reeks se natuurlike reikwydte.

Beter vir die geldkoffers

Dat Japan die 28ste en die aangeklampte Singapoer, waar die Sunwolves twee van hul wedstryde speel, die derde rykste land ter wêreld is, dien die geldkoffers beter en rugby in die Suidsee speel tweede viool.

`n Suidsee-superfranchise sal gewis beter in die reeks vaar as die Sunwolves en kan boonop die roomafskeier-effek van Nieu-Seeland op die eilande se se rugbytalent inperk – of dra dié bedreiging vir Nieu-Seelandse rugbykolonialisme en die eilande se voederrol in Kiwi-rugby by tot die huiwering om die eilanders selfstandig in die Superreeks te huisves?

In die lig van Andy Marinos, die nuwe grootbaas van Sanzar, se vergesig dat die Superreeks wêreldwyd kan uitbrei, is Amerika (die negende rykste land) en Kanada (20ste) waarskynlik ook voor die Suidsee-eilande in die ry ingeval die getal franchise’e verder uitgebrei word, al is hulle soos Japan in die Noordelike Halfrond geleë.

Op die koop toe het Uruguay laat blyk dat hy op die lang termyn ook na Superrugby mik – en hy is as die wêreld se 58ste rykste land net twee plekke swakker as Argentinië daaraan toe.

Solank geldmakery deelname gaan bepaal, lyk dit of die verdienstelike Suidsee-eilanders maar hul heil in die Nieu-Seelandse franchise’e sal moet bly soek.

Wat van Botswana?

In dié opsig lyk die prentjie lyk selfs donkerder vir Afrika wat rugbyontwikkeling en wat `n moontlike franchise buite Suid-Afrika betref.

Die dertien armste lande op GF se lys (173 tot 185) is op dié vasteland, en van nommer 137 tot 171 (35 lande) vind `n mens nog 23 uit Afrika.

Die twee sterkste rugbylande ná Suid-Afrika is Namibië en Zimbabwe, onderskeidelik  99ste en 160ste op die wêreld se ryk-tot-arm-lys.

Op dié geldmaak-gedagterigting geskoei, is Botswana (73ste en heelwat beter as Suid-Afrika se 87ste plek) nou wel nie `n rugbykrag nie, maar het hy ná die Seychelle (48ste), Gaboen (55ste) en Mauritius (66ste) die sterkste ekonomie in Afrika.

Alte moedswillig kan `n mens seker maar wonder wat van `n Gabarone-gebaseerde franchise wat Namibië en Zimbabwe daarby insluit?

Toemaar, dis nie ernstig nie. Dis bloot `n poging om uit te lig hoe sake hande kan uitruk indien geld- en rugbybelange binne rugbykringe nie op die een of ander wyse versoen raak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Die rondvallery om spelers te werf vir die Kings onderstreep die gedagte dat geldmaak die onderliggende faktor is.Want hoe die gekoopte span rugby gaan ‘verbeter’ en spelers van die streek meer geleenthede gaan gee, in die streek wat hul verteenwoordig sal net Saru weet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.