Owen Farrell as ‘rugby-ikoon’ beskryf

Owen Farrell. Foto: Gabriel Bouys/AFP.

Baie rugbyliefhebbers sukkel om van Owen Farrell te hou, maar Eddie Jones skroom nie om die heuningkwas uit te haal om dié Engeland-speler se lof te besing nie.

“As Owen nie deel van die opset is nie, is die span ʼn groot gedeelte van sy veggees kwyt. Hy is die mees energieke speler wat ek nóg afgerig het,” het Jones gesê.

Farrell is op koers om in sy 100ste toets te speel wanneer die Rose op 19 November met die All Blacks op Twickenham kragte meet.

Volgens die Engeland-afrigter kry die 31-jarige agterspeler nie die nodige erkenning nie; amper soos ʼn rugbyprofeet wat nie op sy tuisveld geëer word nie.

“Julle besef dat hy een van die toppuntemakers in die spel se geskiedenis is? Hy is ongetwyfeld een van die bestes nóg. ʼn Ware rugby-ikoon.”

Jones erken egter dat ondersteuners dit moeilik kan vind om van Farrell te hou; ʼn stand van sake wat hy aan die speler se taaiheid en veglustigheid toeskryf.

“Hy het so te sê elke liewe trofee op die groot verhoog gewen, behalwe die Wêreldbeker. Tog is ʼn silwermedalje seker nie te versmaai nie.”

Farrell se omstrede têkkel-tegniek is gereeld onder die vergrootglas en hy het hom in 2020 die gramskap van die rugbywêreld op die hals gehaal toe hy die jong Charlie Atkinson disnis met sy arm in ʼn wedstryd tussen Saracens en Wasps geloop het.

“Hy probeer altyd om iemand hard te têkkel en hy doen dit gereeld hoog. Dit moet glad nie eens saak maak dat sy naam Owen Farrell is nie – hy verdien die straf wat hom toekom,” het die oudlosskakel Andy Goode destyds geskryf.

’n Onafhanklike tugkomitee het hom egter vir net vyf wedstryde geskors – en dit ná gevaarlike kontak met sy teenstander se nek.

Die Springbokke speel op 26 November teen Engeland op Twickenham. Die Suid-Afrikaners het verlede jaar met 27 – 26 teen die Rose verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fran ·

Farrell is ‘n ikoon ja, maar ‘n hoogvat ikoon wat al jare daarmee wegkom. Ook ‘n kapokhaantjie met sy krapagtige aanloop na die bal. Regte kom-klap-my gesig.

MakersMark ·

As daar ‘n kategorie wenner was vir die arroganste speler in wéreld rugby……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.