Pad kan net steiler in Europa word

Jake White weet dat die Verenigde Rugbykampioenskap ’n taai uitdaging is. Foto: Twitter.

Jake White het nie doekies omgedraai nadat sy span die afgelope naweek met 34 – 7 teen Connacht in Galway verloor het nie. Dit was die Pretorianers se tweede agtereenvolgende nederlaag in die Verenigde Rugbykampioenskap nadat hulle ook teen Leinster vasgeval het.

Dit het Vrydagaand aanvanklik gelyk of die Suid-Afrikaanse kampioenspan beter by die Europese toestande aanpas.

Lizo Gqoboka het binne twee minute vir ’n welverdiende drie oorgeval, terwyl ’n rustydagterstand van 10 – 7 hoegenaamd nie die einde van die wêreld was nie.

Maar soos wat die wedstryd gevorder het, het die Iere al hoe beter gespeel, terwyl die Bulls al meer gesukkel het.

Met Cardiff wat volgende lê en wag meen White dat die pad vorende net steiler kan word.

“Daar is nie iets soos ’n maklike wedstryd in hierdie reeks nie. Cardiff het juis nou die dag met Connacht afgereken; dinge gaan net taaier word,” het die ervare afrigter gesê.

Dit is nie maklik om by ’n nuwe reeks aan te pas waar die speltempo soveel vinniger is nie – plaaslike rugbyliefhebbers kla immers al geruime tyd oor die afgewaterde gehalte van die Curriebekerreeks.

Dan moet die Suid-Afrikaanse rugbyspanne baie wedstryde weg van die huis speel, terwyl Covid-19-reisregulasies ook kan beteken dat hulle hul tuiswedstryde op ’n oorsese veld sal moet speel.

“Ander spanne het egter ook al op hierdie einste velde vasgeval en alles is beslis nog nie verlore nie.”

Die Verenigde Rugbykampioenskap kan ongetwyfeld een van White se grootste afrigtersuitdagings wees, maar met die hulp van ervare spelers soos Marcell Coetzee, Jacques du Plessis en Johan Goosen kan die Bulls dinge omdraai.

Dit is soms net moeilik om aan iets nuuts gewoond te raak – veral wanneer jy ’n groot vis in ’n Suid-Afrikaanse dam was.

  • Bepalings vir die komende naweek se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryde:

Haaie teen die Ospreys (Vrydag om 20:35)

Lions teen Glasgow Warriors (Saterdag om 16:05)

Stormers teen Edinburgh (Saterdag om 18:15)

Bulls teen Cardiff (Saterdag om 20:35)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Veral nie met ‘n span wat deur die regering beheer word met ‘n kwota sisteem gebaseer op velkleur nie.

Lee ·

Die ou engelse segging “Be careful what you wish for”. Julle wou mos Noord gaan. Die Pakistani PRO14 soos dit hier bekend gestaan het. Skop die Cheetahs uit, hulle verdien nie om daar te wees nie.Kry liewer die Super Rugby spanne daar. Hulle sal vir ons wys. Ja nee skielik het die Cheetahs nie so sleg gelyk nie of hoe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.