Die Springbokskrumskakel Rudy Paige begin sy eerste Curriebekerwedstryd van die jaar en op agsteman keer Arno Botha terug in die plek van Hanro Liebenberg en neem hy ook die kapteinskap van die Blou Bulle oor.
Dit is twee van die skuiwe wat die afrigter Nollis Marais gemaak het vir die Bulle se halfeindstryd Saterdagaand (18:00) op Loftus teen die Westelike Provinsie.
Paige, wat die naweek se toets teen die All Blacks misgeloop het nadat hy vorige toets teen die Wallabies harsingskudding opgedoen het, het reeds vanjaar van die bank af vir die Blou Bulle Curriebekerrugby gespeel.
Die Bulle se gereelde skrumskakel, Piet van Zyl wat vanjaar uithaler-rugby speel, weens ʼn besering nie oorweeg nie. Die o.21-skrumskakel Ivan van Zyl sal dus van die bank af waarskynlik nog ʼn Curriebekerspeelkans kry.
Die ander verandering agterlangs is die terugkeer van Travis Ismaiel op vleuel in die plek van Bjorn Basson wat op die bank saam met die losvoorspeler Nic de Jager as die agste speler genoem word. Daar sal later oor die finale bank besluit word.
Voorlangs het die afrigter Nollis Marais ʼn hele paar veranderinge aangebring. Benewens Botha, wat in sy derde halfeind speel, keer Jannes Kirsten terug na die beginspan.
Jaco Visagie en Bandise Maku ruil weer plekke, met Visagie wat die keer begin, en met agt plaasvervangers wat in die uitspeelwedstryde toegelaat word, keer die loskopstut Pierre Schoeman terug na die bank.
Die span –
15 Ulrich Beyers, 14 Travis Ismaiel, 13 Dries Swanepoel, 12 Burger Odendaal, 11 Jamba Ulengo, 10 Tian Schoeman, 9 Rudy Paige, 8 Arno Botha (kapt.), 7 Jannes Kirsten, 6 Roelof Smit, 5 RG Snyman, 4 Marvin Orie, 3 Jacobie Adriaanse, 2 Jaco Visagie, 1 Lizo Gqoboka. Bank: 16 Bandise Maku, 17 Martin Dreyer, 18 Pierre Schoeman, 19 Jason Jenkins, 20 Hanro Liebenberg, 21 Ivan van Zyl, 22 Joshua Stander, 23 Bjorn Basson/Nic de Jager