Pale Toe! se moontlike Springbokvyftiental

Wallabies Springboks live
Die Springbokafrigter kondig binne 24 uur die span aan wat in die Suncorpstadion in Brisbane teen die Australiërs speel.

Terwyl die afrigtingspan kopkrap oor die in- en uitsluitings, kan ons maar net spekuleer oor posisies en spelers.

So kan ons spekuleer oor Zane Kirchner op heelagter in plaas van Patrick Lambie, Willie le Roux op vleuel, Flip van der Merwe op nommer-4- slot en Bismarck du Plessis in Adriaan Strauss se plek op haker.

As hy bly by die spelers wat Maandag saam opgewarm het, is Bismarck in die nommer 2-trui en Zane Kirchner op heelagter.

Meyer het gesuggereer dat daar heelwat veranderings sal wees in die beginspan en dat van die insluitings ‘n verrassing of twee sal inhou. Dit mag dan beteken dat Zane Kirchner een van die grootste verrassings sal wees as hy ingesluit word. Kirchner het laas in ‘n Toets teen Engeland uitgedraf, op Twickenham. Dit was byna 10 maande gelede nadat hy ‘n halsstarrige besering gehad en die Junie-toetse gemis het.

Pat Lambie het ook opgewarm en afgewissel met Morne Steyn op losskakel en Meyer maak geen geheim daarvan nie dat hy die Haaie se jong losskakel as ‘n planmaker beskou.

As daar verder nut is vir speukulasie, is dit moontlik dat Meyer vir  Flip van der Merwe sal inspan in plaas van Juandré Kruger.

Eben Etzebeth het blykbaar ‘n maagaandoening en is daar ‘n groot moontlikheid dat hy nie vir die naweek se wedstryd oorweeg sal word nie. As Etzebeth nie betyds herstel nie, sal Kruger sy plek in die beginspan inneem.

Die opdrafspan van 23 sal Woensdag aangekondig word.

Pale Toe! se moontlike Springbokvyftiental – 15 Zane Kirchner, 14 Willie le Roux, 13 JJ Engelbrecht, 12 Jean de Villiers (kaptein), 11 Bryan Habana, 10 Morné Steyn, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Willem Alberts, 6 Francois Louw, 5 Flip van der Merwe, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Bismarck du Plessis, 1 Tendai Mtawarira.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.