‘Paniekbevange’ All Blacks deur tuis-media verdoem

(Foto: Adrian Dennis/AFP)

Die All Blacks is Saterdag deur die Nieu-Seelandse media as “paniekbevange en verbouereerd” uitgekryt nadat die Springbokke die All Blacks ordentlik op Twickenham laat les opsê het.

Dít net voor die All Blacks die Wêreldbeker-toernooi oor twee weke teen die gasheer Frankryk in Parys sal open.

Die driemalige wêreldkampioen is Vrydag op Twickenham in ʼn nederlaag van 35-7 teen die Springbokke geklop.

“Dit voorspel niks goeds nie,” het Patrick McKendry van Television Nieu-Seeland geskryf. Hy het die toets as “ʼn totale ramp” vir die span beskryf.

Dit is die grootste nederlaag wat die All Blacks al ooit gely het. Dié span beklee tans die tweede plek in die wêreld, maar het sedert die ranglysstelsel 20 jaar gelede ingestel is, meer as 80% van die tyd koning gekraai.

Volgens McKendry was die “verbouereerde All Blacks waansinnig en het hulle onnodige aangeë gemaak, waarvan verskeie onderskep is”.

“Dit is moeilik om jou ʼn erger einde so net voor die Wêreldbeker-toernooi voor te stel.”

Liam Napier, wat vir die New Zealand Herald skryf, sê die verlies, sowel as ʼn rooi kaart vir die slot, Scott Barrett, en ʼn ernstige beenbreuk vir die stut, Tyrel Lomax, “is gelyk aan ʼn bloedbad” vir die span.

“Die duidelikheid en akkuraatheid waarmee die All Blacks gespeel het om die Rugbykampioenskap- en die Bledisloe-beker vroeër vanjaar weg te sluit, het hulle nou grootliks in die steek gelaat.”

Gregor Paul, Herald-rubriekskrywer, sê verskeie dele van Nieu-Seeland se spel is ontbloot “as ʼn broosheid wat nou eers ontdek word”.

“Die All Blacks het nog nie so paniekbevange en verbouereerd gelyk sedert Ierland hulle in Julie verlede jaar laat bewe het nie, en hoewel hulle duidelik deur die rooi kaart verhinder is, het dit meer soos ʼn gevolg eerder as ʼn oorsaak van hul probleme gevoel.”

Richard Knowler, wat vir die Stuff-mediagroep skryf, het die “swak dissipline, slordige besluitneming en simpel foute” uitgelig en sê die All Blacks het ʼn “teer onderbuik” vertoon.

“Die taak is nou om te bewys dat die All Blacks die geestelike veerkragtigheid het om van hierdie skokverlies te herstel.

“Hulle het twee weke om dit reg te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.