Pannarweek: Elsenburg 37ste keer wenner

Elsenburg – ook 2017 se wenner. (Foto: Peet van der Walt)

Elsenburg het Vrydag op Fort Cox, naby King William’s Town, die Suid-Afrikaanse landboukolleges se nasionale toernooi vir die 37ste keer gewen.

Hy het Grootfontein met 26-20 in die riller-eindstryd van die Pannarweek geklop (rustyd 12-13), en daarmee die IPJ du Plessisbeker ingepalm.

Cedara het in die plaatafdeling met Fort Cox afgereken, en die Piet de Jagerbeker teruggewen, wat hy verlede jaar aan Glen moes afstaan.

Die puik rugby van die bekerfinaal, wat deur Peet van der Walt van Pannar as die toernooi se beste kragmeting in jare bestempel word, het die twee spanne ook die Willie van Zijlbeker vir die topstryd van die toernooi besorg.

Van der Walt sê Grootfontein het vroeg-vroeg uitmuntend aangeval, en is binne die eerste paar minute met ʼn drie beloon.

“Sy rustydvoorsprong was ʼn baie goeie weerspieëling van die harde, gelykop stryd. Elsenburg het baie gevaarlik vertoon wanneer hy in Grootfontein se kwartgebied was, maar veral laasgenoemde se agterlyn het skitterend verdedig om die Stellenbossers se pogings te fnuik.

“In die tweede helfte het Elsenburg die bordjies verhang toe sy agsteman, Gerhard du Toit, binne die eerste paar minute ʼn drie gedruk het.”

Oog gevang

Van der Walt sê spelers wat die oog gevang het, was Elsenburg se flank Brendon Botha, wat in die eerste helfte twee keer punte aangeteken het. Grootfontein se Noah Montfort en Edwin van Rensburg het in die lynstane uitgeblink, en laasgenoemde het in die eerste helfte twee puik drieë gedruk.

In die stryd om die derde plek het Potchefstroom vir Glen met 29-0 ore aangesit.

Van der Walt sê dit was ʼn harde wedstryd waarin eersgenoemde met beter samespel oorheers het. Hy was voor en agter baas, het puik bewegings met mooi drieë afgerond, en die oorwinning terdeë verdien.

Tsolo het Taung in ʼn baie los wedstyd met 6-0 geklop deurdat hy die meeste ondernemingsgees aan die dag gelê het.

Van der Walt sê die wenspan, wat verlede jaar by die toernooi aangesluit het, is ʼn baie goeie ontwikkellingspan.

Ander bekerwenners –

Bolandbankbeker (mees konstruktiewe rugby): Elsenburg

Joe Venterbeker (beste voorspeler): Attie van Rensburg (Elsenburg)

Pannarbeker (beste agterspeler): Bradley Oerson (Glen)

Du Pontbeker (meeste punte): Sterling Naudé (Elsenburg)

Kohlermotorsbeker (meeste drieë, Plaatafdeling): Cedara

Louis Luytbeker (meeste driee, Bekerafdeling) Elsenburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.