Pannarweek: Elsenburg, Grootfontein begin goed

Dis groen net waar ʼn mens kyk soos Elsenburg in die opstelronde teen Tsolo aanval – tekenend van die Stellenbossers se oorheersing by die Pannarweek. (Foto: Peet van der Walt)

Elsenburg en Grootfontein het hul aanslag by die Suid-Afrikaanse landboukolleges se nasionale week by Fort Cox op Middeldrift, naby King William’s Town, goed begin.

Die Stellenbossers het Maandag hul kragmeting in die Pannarweek se Bekerafdeling teen Glen van Bloemfontein met 59-0 gewen; en die Middelburgers het Potchefstroom met 22-10 ondergesit.

In die Plaatafdeling het Cedara met 7-5 teen die Tsolo-instituut vir Landbou en Landelike Ontwikkeling, noord van Mthatha, gewen; en die gasheer, die Fort Cox-landbou-en-bosbou-opleidingsinstituut, het met 22-5 teen Taung gewen.

Peet van der Walt van Pannar laat weet die botsing tussen Grootfontein en Potchefstroom was die opwindendste van die dag.

“Grootfontein het uit die staanspoor met goeie spel en volgehoue druk beïndruk en twee goeie drieë aangeteken.

“Die Noordwesters het aan die einde van die eerste helfte kwaai begin terugveg, maar kon eenvoudig nie deur die verdedigingslinie breek nie (rustyd 10-3).

“Potchefstroom het die tweede helfte met sterk aanvallende rugby weggespring, en ʼn welverdiende verdoelde drie gedruk. Hy het die tweede helfte oorheers, maar kon eenvoudig nie afrond nie.

“Grootfontein het in die laaste paar minute weer op dreef gekom en ʼn drie gedruk.”

Van der Walt sê die kragmeting tussen Elsenburg en Glen het insgelyks goeie rugby opgelewer.

“Elsenburg het sy sterk hardlopende agterlyn goed op die aanval ingespan, en al het Glen moedig teenstand gebied, was die wenspan se groter vernuf een te veel vir hom, en is dit in die punteverskil weerspieël.”

Grootfontein (blou) teen Cedara (groen). (Foto: Peet van der Walt)

Cedara en Tsolo het ook vir opwinding gesorg, berig Van der Walt.

“Die spel was baie gelykop en elke span het ʼn drie gedruk. Tsolo het ʼn wenkans in die doodsnikke verkwis deur ʼn strafskop te verbrou.

“Fort Cox en Taung het gesukkel om aan die gang te kom, maar toe sake begin rigting kry, het die gasheer oorheers en maklik gewen.”

Van der Walt sê dis die 31ste keer dat Pannar die toernooi borg waarin agt kolleges vanjaar om die IPJ du Plessisbeker meeding.

Die spanne is ná ʼn opstelronde in ʼn Beker- en ʼn Plaatafdeling verdeel.

Sedert die toernooi in 1969 die eerste keer aangebied is, het Elsenburg dit 36 keer gewen, Potchefstroom en Grootfontein elk drie keer, Saasveld twee keer (een daarvan gedeel met Elsenburg), en Glen en Kovsies-landbou elk een keer.

Aan die einde van die week sal ʼn Suid-Afrikaanse Landboukollegespan gekies word om Maandag 10 Julie teen ʼn Grens-uitnodigingspan in Oos-Londen te speel.

Uitslae van opstelronde –

Elsenburg 73, Tsolo 0; Grootfontein 89, Cedara 0; Potchefstroom 39, Taung 0; Glen 20, Fort Cox 17.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.