Pannarweek: Elsenburg looi Pampoenboere

Elsenburg storm voort teen Potchefstroom.

Elsenburg storm voort teen Potchefstroom.

Elsenburg het Woensdag vir Potchefstroom se Pampoenboere deeglik gelooi in die landboukolleges se jaarlikse Pannarweek wat vanjaar op Potchefstroom uitgespook word.

Die span uit die Wes-Kaap het die kragmeting in die toernooi se Bekerafdeling 52-5 gewen. Grootfontein het die ander wedstryd in dié afdeling 38-3 teen Fort Cox gewen.

In die Plaatafdeling het Cedara vir Tsolo 30-14, en Glen vir Taung 39-10 geklop.

Peet van der Walt van Pannar berig Elsenburg se voorspelers het die wedstryd teen die gasheer oorheers en goeie balbesit vir die agterspelers gee.

“Elsenburg het gestruktureerde rugby gespeel, gekombineer met goeie balvaardighede. Nieteenstaande die verskil in punte het Potch goed meegeding en by tye mooi aanvalle van stapel laat loop.

Gerco Nortje, Elsenburg se losskakel, het baie akkuraat na die pale en kantlyn toe geskop.

Die speler van die wedstryd was Elsenburg se vaskopstut, Alexander Duckitt.

Van der Walt sê die botsing teen Fort Cox was aanvanklik weer taai vir Grootfontein.

“Hul skrums en lynstane is egter goed en hulle het die vaste spel oorheers. Wanneer die spel los geraak het was Fort Cox gevaarlik met hul vaart tot hul voordeel.

“Grootfontein het in die tweede helfte gestruktureerde rugby gespeel en oortuigend gewen.”

Die wedstryd tussen Cedara en Tsolo was in baie opsigte gelyk, maar Cedara was meer afgerond, berig Van der Walt.

“Tsolo speel belowende rugby in ag genome dat hy die eerste keer aan die toernooi deelneem.

“Cedara het egter in die tweede helfte die oorhand gekry en gemaklik gewen.”

Die speler van die wedstryd was Siya Vilakazi, flank van Cedara.

“Glen se swaarder agttal het met goeie voorspelerspel fases afgedwing waaruit die agterspelers drieë kon druk. Hy het ook uit die foute van Taung omkeerbesit gekry wat die spel in sy guns geswaai het.”

B Fortuin, Glen se haker, is as die speler van die wedstryd aangewys.

Die toenooi loop Saterdag ten einde, met die Bekerafdeling wat tussen Elsenburg en Grootfontein beslis sal word, en die Plaatafdeling tussen Glen en Cedara.

Elsenburg en Cedara het die onderskeie afdelings verlede jaar gewen.

Opgesomde punteleer –

Bekerafdeling

Elsenburg 10, Grootfontein 9, Potchefstroom 1, Fort Cox 0.

Plaatafdeling

Glen 9, Cedara 9, Taung 1, Tsolo 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.