Pannarweek galmende triomf vir Elsenburg

Die SA Landboukolleges teen Klerksdorp.

Die SA Landboukolleges teen Klerksdorp.

Die SA landboukolleges se afgelope Pannarweek op Potchefstroom was `n galmende triomf vir die Elsenburg-landboukollege by Stellenbosch.

Die Wes-Kaaplanders het nie net die toernooi gewen nie, maar so te sê elke moontlike trofee ingepalm en op die koop toe 12 van die 23 spelers (11 in die opdrafspan) van die SA Lanboukolleges teen Klerksdorp opgelewer.

Elsenburg het die IPJ du Plessisbeker gewen deur Grootfontein (Middelburg, Oos-Kaap) 39-0 in die eindstryd te klop. Die kragmeting is ook as die beste van die toernooi met die Willie van Zijlbeker beloon.

Peet van der Walt, `n woordvoerder van Pannar, sê die wedstryd was tipies van studenterugby, vinnig en aanvallend.

“Elsenburg het harde gestruktureerde en aanvallende rugby gespeel en met beter afronding die spel oorheers.

“Sy formidabele voorhoede en agterlyn het seepglad gefunksioneer. Die span verdedig baie goed en het die vermoë om druk in geleenthede te omskep. Die vaart in die agterlyn sorg vir drieë.

“Nieteenstaande die punteverskil het Grootfontein goed meegeding en by tye mooi aanvalle van stapel laat loop. Hulle het volhardend bly aanval met die balle wat hulle gekry het, maar te veel foute in die vaste spel gemaak.”

Emile Barron, Elsenburg se heelagter, is as die speler van die wedstryd aangewys.

Potchefstroom het die derde plek ingeneem deur Fort Cox (Kingwilliamstown) 34-8 te verslaan.

Van der Walt sê die Pampoenboere het aanvanklik oorheers en vinnig drieë gedruk, maar teen die einde van die eerste helfte `n bietjie stoom verloor.

“Potchefstroom het in die vaste spel en skrums oorheers en só die geleentheid geskep om punte aan te teken.

“Fort Cox het manhaftig probeer en die agterlyn het mededingend gelyk. Hulle het goed aangeval, maar swak hantering het hulle gereeld die inisiatief gekos. Nieteenstaande dié harde spel het Potchefstroom gemaklik gewen.”

Potch se buitesenter, Jaco de Waal, was die speler van die wedstryd.

Jandré Rudolf wens G Adams (Glen) geluk as speler van die wedstryd tussen Glen en Cedara.

Jandré Rudolf wens G Adams (Glen) geluk as speler van die wedstryd tussen Glen en Cedara.

Glen (Bloemfontein) het Cedara as Plaatkampioen onttroon deur die eindstryd en die Piet de Jagerbeker 25-0 te wen.

Van der Walt sê die wedstryd was in baie opsigte gelyk, maar baie los. Glen het meer gestruktureer gespeel, en Cedara het nes Fort Cox met sy hantering gesukkel.

Die speler van die wedstryd was G Adams van Glen.

Tsolo (Mthatha) het Taung 24-22 geklop.

“Taung het baie goed weggespring, maar namate die wedstryd gevorder het, het Tsolo groter inisiatief getoon,” sê Van der Walt.

“Die verloorspan het aanvallende rugby gespeel en sy keuse om nie pale toe te skop nie het hom uiteindelik die wedstryd gekos.

“As nuweling in die toernooi het Tsolo volop durf getoon en die sege verdien. Sy losskakel, Ngubentombi Liwalam, was die speler van die wedstryd.”

Drie van verlede jaar se spelers is weer in die nasionale span ingesluit: Grootfontein se TP Swanepoel, en die Elsenburgers Attie van Rensburg en Stirling Naudé.

Die span –

15. Emile Barron, 14. Carlton Fortune (albei Elsenburg), 13. TP Swanepoel (Grootfontein), 12. Jaco de Waal (Potchefstroom), 11. Terence Jacobus, 10. Gerco Nortjé, 9. Louis Carstens (almal Elsenburg), 8. Joppie du Pisani (Grootfontein), 7. Attie van Rensburg, 6. Sybrand Strydom, 5. Christiaan Geldenhuys, 4. Pierre Rabe, 3. Alexander Duckitt (almal Elsenburg), 2. Marius Paulsen (Grootfontein), 1. Riaan Sutherland (Elsenburg). Bank: 16. Johan Schoeman (Potchefstroom), 17. Pieter Moolman, 18. Justin Danckwerts, 19. Adrian Greig, 20. Louis Lamont (almal Grootfontein), 21. Njiva Sibabalwe (Fort Cox), 22. Phillip Crouse (Grootfontein), Stirling Naudé (Elsenburg).

Ander bekers –

Grant en Lu Kobus-beker (invloedrykste speler): Gerrit du Toit (Elsenburg)                 

BolandBankbeker (mees konstruktiewe rugby): Elsenburg

Joe Venterbeker (beste voorspeler): Alexander Ducitt (Elsenburg)

Pannarbeker (beste agterspeler): Gerco Nortjé (Elsenburg)

Du Pontbeker (speler met meeste punte): Gerco Nortjé (Elsenburg)

Kohler Motors-beker (span met meeste drieë in plaatafdeling): Glen

Louis Luytbeker (span met meeste drieë in plaatafdeling): Elsenburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.