Pasifiese Superreeks: Hurricanes laat Blues bloos

Die Hurricanes het in die doodsnikke gewen. (Foto: Hurricanes/Facebook)

Die Nieu-Seelanders is baie bekommerd daaroor dat die Springbokke oor drie jaar nie meer in die Rugbykampioenskap sal speel nie en hulle huil reeds lang trane omdat die vier Suid-Afrikaanse franchises hul bande met die Superrugbyreeks verbreek het.

In ʼn poging om lewe in die nuwe Pasifiese Superreeks te plaas, is gekombineerde spanne van Fidji (Drua) en Moana Pasifika (ʼn gekombineerde span van Samoa, Tonga en die Cook-eilande) nader getrek, maar dit is tot dusver ʼn misoes.

Die Brumbies het Saterdag ʼn wegholoorwinning van 42 – 3 oor die Fidjiane behaal en sewe drieë teenoor nul gedruk. Verlede naweek het die Waratahs met 40 – 10 oor die Fidjiane gespoel.

Moana Pasifika se eerste twee wedstryde teen Nieu-Seelandse spanne is vanweë Covid-19 uitgestel en hulle kon nog nie na waarde geskat word nie.

Nou speel die Nieu-Seelanders maar teen mekaar.

Maar daar skort nie te veel nie, want Saterdag se kragmeting tussen die Hurricanes en Blues in Dunedin het al die bestanddele van ʼn feesmaal gehad.

Dit is teen ʼn baie hoë tempo gespeel en die Blues het onstuitbaar gelyk, veral met Roger Tuivasa-Sheck (ʼn oud-rugbyligaster) wat sy buiging gemaak het. Net soos Sonny Bill Williams van ouds gaan hy ook diep spore in rugby trap. Hy kan systap, sy verdediging is stewig en sy aangeë met die een hand in kontak was Williams uitgeknip.

Die Blues was in die 67ste minuut met 32 – 14 op pad na ʼn oorwinning voordat die Hurricanes drie drieë binne tien minute gedruk het om met 33 – 32 in die doodsnikke te wen.

Dit was ʼn behoorlike riller met asemrowende bewegings en fasespel, maar die gebrek aan verdediging het soos ʼn seer oog uitgestaan.

Dis hoekom die Nieu-Seelanders na die Bokke verlang, want die Australiërs verskaf mos al jare lank nie die antwoord nie.

* Vrydag het die Crusaders die Highlanders met 34 – 19 in Dunedin geklop en getoon waarom hulle weer een van die groot aanspraakmakers is.

In Australië het die Reds die Waratahs met 20 – 16 geklop. Die wedstryd is in gietende reën gespeel, maar verbasend genoeg het dié Aussie-spanne nie geskroom om met die bal te hardloop nie.

* Soos sake ná twee weke staan, is die Brumbies en Crusaders saam voor met nege punte. Hulle word gevolg deur die Reds (8) en Waratahs (6). Maar onthou dat van die Nieu-Seelandse wedstryde weens Covid-19 uitgestel is, terwyl die Aussies nog teen die Nieu-Seelandse spanne moet speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.