Pasop Wallabies, hier kom ʼn fikse Coenie!

Coenie Oosthuizen – sy spel buite die skrum is ook voortreflik. (Foto: GB Jordaan)

Die Springbokke se vaskopstut Coenie Oosthuizen wat vanjaar kritici stil geskrum en die Pumas in die skrums verniel het, is slaggereed. Hy sal Saterdag in Perth teen die Wallabies kan speel.

Oosthuizen het sy ribbes teen die Pumas in Salta beseer, en daar was kommer of hy gereed sou wees vir Saterdag se toets in die Rugbykampioenkap.

Geen kraak is in Oosthuizen se ribbes opgespoor nie, maar vra maar vir ʼn voorryman wat ʼn ribbesering gehad het. Dit is erg, werklik erg. Jy kan nie in die skrum draai nie, jy kan nie direkte druk op die ribbes ervaar nie; jy kan nie behoorlik asem haal nie. En hoes en nies op sigself is seer van die veld af.

In elk geval, die ou grote wat vanjaar as skrumwerker tot sy reg kom ná ʼn afseisoen se rehabilitasie na sy nekoperasie en harde werk by die Sharks, sal soos teen die erkende sterk skrum van die Pumas Saterdag in Perth sy deel kan doen.

Sy spel in die vaste los, en veral as ʼn man wat die bal by die afbreekpunte kan omkeer en om die losskrums duikslae kan uitvoer, sal saam met sy dryfspel vir die Bokke van die groot waarde wees.