Pat Lambie was Suid-Afrika se Beauden Barrett

Pat Lambie. Foto: Facebook.

Nieu-Seelandse rugbyondersteuners het met groot afwagting daarna uitgesien dat hul gunsteling-speler, Beauden Barrett, weer losskakel toe skuif in die Aotearoa-reeks.

Barrett is ʼn paar seisoene gelede na heelagter geskuif en daar word steeds vrae gevra of heelagter of losskakel sy beste posisie is.

Dis ʼn tameletjie, want hy bied soveel waarde in albei posisies dat dit ʼn regte kopkrapper is.

Dit is nie altyd maklik vir ’n speler om soomloos tussen heelagter en losskakel rond te skuif nie, behalwe as jy die talente van ʼn Barrett of Pat Lambie het wat ewe gemaklik in albei dié spesialis-posisies toetsrugby gespeel het.

Lambie was ʼn ewe begaafde krieketspeler en was op skool Michaelhouse sy eerstespan se rugby- en krieketkaptein.

Hy was Michaelhouse se eerste Springbok in 116 jaar en soos baie losskakels voor hom, soos Tony Harris, Gavin Cowley, Peter Kirsten, Herschelle Gibbs en Lee Barnard, was hy ewe bekwaam op die rugby- en krieketveld. Hy was hy ook KwaZulu-Natal se skolerugby- en krieketkaptein.

ʼn Mens besef nie aldag nie dat Lambie, wie se loopbaan op 28 jaar kortgeknip is ná ʼn reeks harsingskuddings, 56 toetse vir die Bokke tussen 2010 en 2016 gespeel en het 153 punte aangeteken het nie.

Volgens my rekords was hy in 32 keer losskakel, 21 keer heelagter en ʼn paar keer plaasvervanger-vleuel en senter.

Baie ondersteuners het gesê dat Lambie te klein was, te veel kontak wou maak, maar hy was beslis nie veel kleiner as Naas Botha, Dan Carter of Johnny Wilkinson nie.

Sy treurmare het begin toe CJ Stander hom in 2016 laat met die heup teen die kop getref het in die toets tussen die Springbokke en Iere in 2016 op Nuweland.

Dit was die begin van die tragiese einde van een van die mees begaafde losskakel/heelagters se loopbaan, wat vanweë sy veelsydigheid nog jare lank vir die Bokke kon gespeel het

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Die Wolf ·

Lambie was nie laat geloop deur CJ nie. Kyk weer na die beeld materiaal as julle dit kan kry .

Villie ·

Jy kon altyd op Pat Lambie staatmaak. Hy sou geen span in die steek laat nie.

Jack Russ1 ·

As Lambie in die span was het kon hulle op hom staatmaak, maar hy is glad nie in die klas van Barrett nie

Fufu ·

Nou Ou Wolf indien jy dan so n groot Rugby kenner is, vertel ons dan wat daar gebeur het.

Jack Russ1 ·

Of hy kan net die wedstryd kyk en self sien wat gebeur het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.