Pepervreters, Alligators voer botoon teen Noorde

Die Suid-Amerikaanse spanne het die botoon teen hul Noordelike eweknieë in die eerste ronde van die nuwe Amerikas-uitdaagreeks (ARC) in Medellίn, Colombia, gevoer.

Colombia, wat rustyd reeds met 42-0 voor was, het Guyana met 71-7 verpletter, en Paraguay het Mexiko met 45-36 geklop (rustyd 22-19).

José Manual Diosa het 26 punte vir Colombia aangeteken deur drie drieë te druk, en met vier doelskoppe en ʼn strafdoel te slaag. Hy het hiermee sy totaal as die Pepervreters se voorste puntemaker tot 253 opgeskuif.

Die Alligators (Paraguay) se heelagter, Sergio Alvarenga, was vir 22 van sy span se punte verantwoordelik. Hy het twee drieë gedruk, en met twee elk straf- en skepdoele geslaag.

Die toernooi duur tot Saterdag.

♦ Panama het sy heel eerste internasionale reeks gewen toe hy El Salvador Saterdag in Medellίn in die Sentraal-Amerikaanse Rugbykampioenskap geklop het.

Die Rooi Duiwels het met 51-26 gewen, nadat hulle vroeër vir Honduras met 39-27 gebraai het.

El Salvador, wat Honduras naelskraap met 27-24 geklop het, was tweede in die nuwe reeks, wat die ou Suid-Amerikaanse Senior C-kampioenskap vervang.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.