Pepervreters maak geskiedenis teen Alligators

Die Pepervreters het Saterdag in Medellín, Colombia, geskiedenis gemaak deur die Alligators die heel eerste keer te klop, en daarmee saam die eerste Amerikas-uitdaagreeks te wen.

Die Colombiane het Paraguay oortuigend met 44-29 verslaan – die eerste keer in agt kragmetings sedert 2004 tussen die twee spanne dat hulle aan die wenkant is.

Die verloorspan was rustyd met 24-20 voor.

Rugby in Paraguay het ʼn veel langer tradisie as in Colombia, maar met minder as 5 000 spelers en 20 klubs, teenoor laasgenoemde se sowat 15 000 en 80 klubs, kon dit seker die een of ander tyd te wagte wees.

Colombia is vanjaar bevorder tot die nuwe reeks, wat lande van Noord- en Suid-Amerika insluit, nadat hy die destydse Suid-Amerikaanse Senior B-kampioenskap drie jaar agtereenvolgens gewen het.

Meksiko het die beste van die Noord-Amerikaanse deelnemers gevaar deur Guyana met 48-36 (rustyd 31-12) om die derde plek te klop.

Vroeër in die week het Paraguay vir Guyana met 86-7 verpletter (rustyd 60-7); en Colombia het Meksiko met 45-0 oorrompel (rustyd 11-0).

♦ ʼn Vyftiental van Uruguay het Brasilië eweneens vroeër vandeesweek in ʼn littelosmaker in São José dos Campos, Brasilië, met 41-36 verslaan.

Dit was deel van die besoekers se voorbereiding met die oog op die Amerikas-Stille Oseaan-uitdaagtoernooi in Oktober in Uruguay.

♦ Nóg nuus uit Suid-Amerika is dat die gewese Uruguaanse toetsspeler Pablo Lemoine, wat Duitsland afgerig het, onmiddellik as hoofafrigter van Chili oorneem.

Dit kom nogal as ʼn verrassing, met Duitsland wat oor minder as drie maande aan die Rugbywêreldbeker-heruitdun in Frankryk deelneem.

Lemoine het in Duitsland by die Suid-Afrikaner Kobus Potgieter oorgeneem toe die Duitse Rugbyunie (DRV) en die nasionale span se borg haaks geraak het. Potgieter en die spelers van die Vereniging vir die Bevordering van Rugby (GFR) is egter weer betrek by die uitspeelwedstryde waarmee Duitsland sy plek in Marseille bespreek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.