Peter de Villiers: Van Nuweland na Harare

Peter de Villiers – oomblik van waarheid? (Foto: Facebook)

ʼn Mens wonder hoe lank dit die Zimbabwiese Rugbyunie gaan neem voordat hy die gewese Springbokafrigter Peter de Villiers die deur gaan wys.

Gaan vra maar vir Makhaya Ntini wat ʼn paar weke gelede sy rieme as Zimbabwe se krieketspan se boulafrigter styfgeloop het. Niks te doen met ras of kleur nie. Jy’s ʼn inkommer, soos die Stellenbossers maar al te graag sê.

Dit was eintlik met ʼn traan in die oog dat ʼn mens die aankondiging gelees het dat De Villiers die Zimbabwiese senior span die volgende twee jaar gaan afrig nadat hy by die o.19-span betrokke was.

Van Springbokafrigter tot …

Die hoofdoel is om Zimbabwe vir aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan te laat kwalifiseer. Dis ʼn pad vol dorings en ʼn gebabbel sal nie die span laat wen nie, soos van die dinge wat De Villiers reeds by die aankondiging kwytgeraak het nie.

Dalk was dit skertsend, maar om darem te gesê het dat dit die belangrikste dag in sy lewe is, was verregaande.

Maar nou ja, Snorre is Snorre.

Zimbabwe (44ste op die jongste wêreldranglys) speel in ʼn laaste kwalfiserende reeks om Rugby Afrika se Goue Beker teen Namibië (23ste), Kenia (30ste), Uganda (35ste), Marokko (38ste), en Tunisië (43ste). Die span wat bo eindig, dring deur om in dieselfde groep as die All Blacks, Springbokke en Italië in Japan te speel.

Net so terloops, Namibië het Zimbabwe in 2015 met 80-6 geklop, die land se grootse nederlaag nog.

De Villiers was suksesvol as Springbokafrigter en het 30 van sy 48 toetse gewen, vir ʼn wenpersentasie van 62,5%. Die Bokke het onder hom die All Blacks vyf keer in 11 toetse geklop, die Drienasiestoernooi in 2009 gewen asook die Britse en Ierse Leeus in die reeks van drie toetse met 2-1 geklop.

Maar hy het spelbrekers, spelskeppers en leiers soos Bryan Habana, Jean de Villiers, Jaque Fourie, Frans Steyn, Fourie du Preez, Bismarck du Plessis, Victor Matfield, Bakkies Botha, Juan Smith, Schalk Burger en Pierre Spies gehad.

Baie kenners meen steeds dat De Villiers, Matfield, Du Preez en John Smit die span help afrig het.

Nou is De Villiers op sy eie aangewese. Hy gaan nie op die miljoene rande se hulpbronne en talentvolle spelers kan staatmaak nie en hy sal baie diep moet delf.

Nou is dit sy kans om almal verkeerd te bewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Mensig, dit is goed vir die humor om sulke berigte te lees!
All star Coetzee se nuwe span? Lesotho of Botswana indien hy gelukkig is.

Koos1 ·

En Namibie het ‘n amateur span. Spelers wat ander werk doen en na-ure rugby oefen en speel. Snorre ek hoop jy kan iets uitrig daar, maar Zimbabwe is nou nie die All Black span nie, skuus ek druk myself verkeerd uit, nie die New Zeeland span nie.

bollie ·

Onderskatte afrigter. Watter ander Bok-afrigter kon die All Blacks 5 keer in sy afrigtingstermyn van 4 jaar klop? ‘n Rekord waarvan afrigters soos Meyer net oor kan droom. Sy probleem was dat hy te veel twak met die media gepraat het dis al.

DHK ·

Onderskatte afrigter? Jy praat mos nou bollie, Bollie. Hy het die eerste paar jaar met Jake White se kallers geploeg maar toe het sy tekortkominge hom ingehaal. Dis al.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.