Peter Div vir ʼn slag dalk tjoepstil gespeel

Dit lyk of die gewoonlik geselserige gewese Springbokafrigter, Peter de Villiers, tjoepstil gespeel is, nadat Tunisië sy nuwe span, Zimbabwe, se kans om tussen die voorste spanne in die Rugby Afrika se Goue Beker-reeks te eindig vir alle praktiese doeleindes bederf het.

Die Atlasleeus, wat hul vorige wedstryd teen Namibië met ʼn rekordtelling van 0-118 verloor het, het die Swartwitpense in Beja, Tunisië, met 18-14 geklop.

En dis De Villiers se hulpafrigter, Jacob Stoman, en nie hý nie, wat in die media aangehaal word dat Zimbabwe te veel duur foute begaan het.

Die wedstryd is voorafgegaan deur ʼn moddergooiery nadat die besoekers vroeër die week ʼn nag op straat geslaap het omdat hulle glo nie tevrede was met die hotel wat die gashere bespreek het nie.

Gesien die spanne se onderskeie plekke op die wêreldranglys – Tunisië is 42ste, Zimbabwe 44ste – is die uitslag nie juis ʼn verrassing nie.

Die uitslag beteken dat Tunisië (ongeag sy vernedering teen die Biltongboere) nou derde uit ses deelnemers op die punteleer is, en Zimbabwe na vyfde afskuif.

Kenia is tweede ná sy sege van 38-22 Saterdag in Nairobi oor die besoekende Uganda.

Dit is duidelik dat die reeks op 18 Augustus in Windhoek beslis sal word wanneer Namibië en Kenia in die laaste weekronde daar kragte meet.

Die span wat die Goue Beker wen, dring regstreeks tot aanstaande jaar se toernooi om die Wêreldbeker in Japan deur, en die span wat tweede kom, speel in November in die vierhoekige heruitdun in Frankryk.

Die Simbas, wat deur die gewese Grensafrigter Ian Snook gebrei word, het met hul sege ook die Elgonbeker gebuit, wat jaarliks op ʼn tuis-en-weg-grondslag tussen hulle en die Mahemme besleg word. Hulle het vanjaar se eerste botsing in Kampala met 34-16 gewen.

Al het hul span verloor, sal die wedstryd besondere herinneringe vir die Ugandese neefs, Philip en Michael Wokorach, inhou.

Philip (heelagter) het twee drieë gedruk en met ʼn doelskop geslaag, en Michael (buitesenter en kaptein) het ʼn drie gedruk.

Eersgenoemde se loopbaan is erg geknou toe hy in 2013 sy regterbeen en in 2014 sy linkerbeen gebreek het, maar hy speel, na berig word, deesdae weer puik rugby.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Joe Hall ·

Wonder of ou Div dalk ‘n Tunisiese vlag verbrand het, soos wat hy destyds saam met sy makkers met die SA vlag gedoen het, toe Heyneke Meyer as Bok breier aangestel is.

Callie ·

Ou cyril moet mos nou kan sien waar is afrika. Suid afrike probeer hy baie vinnig op selfde vlak kry. Onhou jjlle nog die ou Rhodesie span. Selfs springbokke gelewer toe die springbokke nog naam gehad het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.