Petrol die oorsaak vir spelers se brandwonde

Damian de Allende. Foto: Odd Andersen/AFP.

’n Bietjie ekstra petrol op die vuur is die rede vir die brandwonde wat vier Munster-spelers die afgelope naweek opgedoen het.

Maroela Media het vroeër berig dat Wêreldbeker-wenners Damian de Allende en RG Snyman behandeling ontvang het nadat hulle hospitaal toe gehaas is ná ’n “vuurpit-ongeluk”.

CJ Stander (losvoorspeler) en Mike Haley (heelagter) het ook brandwonde aan hul hande opgedoen en sal na verwagting weer binnekort na die oefenveld kan terugkeer.

De Allende, wat Lukhanyo Am se sentermaat in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland in Japan was, het aan SuperSport.com gesê dat die spelers om ’n vuurput gekuier het toe een van hulle besluit het om ’n bietjie ekstra petrol op die vuur te gooi.

“Ons het net om die vuur gesit toe een van die ouens ’n bietjie petrol oor die vuur gegooi het. Die vlamme het opgespring en sy hand gebrand,” het De Allende aan die webblad gesê.

Soos wat hy gesukkel het om die kannetjie met petrol neer te sit, het dit aan die brand geslaan en ontplof.

Die spelers is na die hospitaal gehaas en hoewel die ergste aanvanklik gevrees is, het ’n spesialis gesê dat hulle nie lank langs die kantlyn sal wees nie. Die twee Springbokke moet juis later die week vir ’n opvolgbesoek gaan om die brandwonde aan hul arms, hande en gesigte te monitor.

“Ons sal hopelik binne ’n paar weke weer oukei wees.”

De Allende en Snyman is juis in Jacques Nienaber se groep vir die komende Britse en Ierse Leeus-toer opgeneem.

Die eerste toets word op 24 Julie in Kaapstad beslis.

Volgens berigte is dit ook nie die eerste keer dat Munster-spelers hul vingers verbrand nie.

Die Ierse stut Peter Clohessy het in 2002 brandwonde aan sy arm opgedoen toe ’n vuur by sy huis buite beheer begin brand het.

“Ek is dankbaar om te lewe ná die aaklige voorval. Ek was besig om vullis te verbrand toe daar skielik ’n harde ontploffing was. Die vlamme het my arm en die kant van my gesig gebrand,” het Clohessy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Nie veel tussen die ore om so iets te doen nie.

Net ek

Ja kyk, brannas maak sterk en te slim en dan is daar mos nie brieke nie……………..

MakersMark

Petrol by ‘n vuur…..? Nie veel grys stof nie.

Phillip

Sal se hulle moet hom aanklae vir nalatig heid . By my werk as jy jou verbrand in son mag jy nie siek verlof kry nie . Dis nalaatig . Akiys die selfde

piet

“Een van die ouens” – Seker dan Snyman, hy’t mos ook redelik erg gebrand. Baard het ook seker aan die brand geslaan.