Peyper geniet gesinstyd, maar mis tog rugby

Jaco Peyper. Foto: ANA.

Hoewel Jaco Peyper, Suid-Afrika se mees ervare rugbyskeidsregter met 111 Superrugby-wedstryde agter sy naam, die tyd saam met sy gesin gedurende die afsonderingstydperk geniet, erken hy dat hy tog rugby mis.

“Dit is vreemd om so baie tyd by die huis deur te bring, maar tussendeur werk en oefensessies is dit baie lekker om saam met my gesin te wees,” het die veteraan van 51 internasionale toetse en vier Curriebeker-eindstryde gesê.

Volgens Peyper hou sy twee jong kinders – onderskeidelik drie en sewe jaar oud – hom baie besig, maar selfs hulle weet dat hul pa sy rugby-doepa nodig het.

“Terwyl ons skeidsregters in die afsonderingstydperk is, is daar baie meer tyd om op die reëls van die spel – én die interpretasie daarvan – te fokus. Dit is uiteindelik die boustene van rugby.”

Die Bloemfonteinse regsman geniet ook sy oefensessies gedurende die afsonderingstydperk. Met sy Wattbike-oefenfiets en die groot vlaktes van die Vrystaat is hy gelukkiger as die meeste ander stadsbewoners wat oefening betref.

“Een goeie ding van ons oefensessies gedurende die afsonderingstydperk is dat elke skeidsregter ’n persoonlike oefenprogram ontvang het wat perfek by sy huis se grootte pas. Ek het nog nooit gedink dat ek in ’n klein area (5×10 m) sal oefen en ná die tyd voel asof ek in beheer van ’n wedstryd was nie.

“Hier in die Vrystaat is ons met oorgenoeg spasie geseën, dus het ek ’n lekker area in my voorerf waar ek kan oefen. Dan help die Wattbike ook baie.”

Die skeidsregters het ook met hul eie bootcamp-uitdaging vorendag gekom; iets wat goed is vir die esprit de corps in die afsonderingstydperk.

“Ons het ’n kompetisie waar ons kyk wie doen die meeste repetisies binne 15 minute. Tot dusver is AJ Jacobs ’n taai kalant, maar dit is groot pret.”

Op die tuisfront probeer hy om soveel as moontlik tyd saam met sy gesin deur te bring, terwyl hy ’n hele paar huishoudelike takies aangepak het.

“Weens rugbyverpligtinge is ek nie baie by die huis gedurende Paasfees nie – ek is gewoonlik in Nieu-Seeland of Australië dan – dus is dit wonderlik om dié spesiale tyd weer saam met my gesin te vier. Terselfdertyd is ek ook beïndruk met my DIY-vaardighede!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.